RESEP: Suurlemoenstroop Broodjie

24 September 2015


‘n Groot deel van my jeug het op die Oos Kaapse platteland af gespeel. My Pa het ‘n geruime tyd geboer en het ‘n wye netwerk van kenisse gehad. Gevolglik was daar altyd vars vrugte van een of ander soort in ons huis. Soos hy, is ek ook lief vir vrugte, maar veral sitrus vrugte. En die Oos Kaap IS sitrus wêreld! Hankey, Patensie, Addo, Kareedouw, die Visrivier Besproeiing-skema, en selfs Alexandria, om net ‘n paar te noem. Die lysie is lank.

Sitrus het vir my ‘n amper onuitputlike bekoring. Daar is net soveel om te bewonder en jouself in te verlustig. Die helder geure en smake; die kleure en die skil teksture; die ritme van skyfies in ‘n sirkel en die ‘vol’ hand gevoel – en belofte – van ‘n vars, ryp en sappige nawel. En dis net die vrugte. Probeer volgende keer gerus suurlemoenboomblare diep in die oppervlak van jou bobotie ingedruk voor jy dit in die oond druk. Dan sal jy verstaan.

Ek het van Suurlemoenstroop Brood by vriendin Hilda geleer. Nee, nie dáái Hilda van Sewende Laan nie. Die broodjie is eenvoudig om voor te berei en dit hou redelik lank. Die effe kluitjierige tekstuur het ‘n aantreklikheid van sy eie en die skerp-suur en soet smake is gefokus, eenvoudig en kom helder deur in die eindproduk. Dit alles dra by tot die onopgesmukte elegansie van hierdie gebakkie.

Van elegansie gepraat: hierdie broodjie kom tot sy volle reg in die geselskap van ‘n aromatiese koppie sterk, vars Earl Grey tee – gemelk of ongemelk. Die twee werk glad en gemoedelik saam op heelwat vlakke. Probeer Dilmah se Earl Grey opspoor as jy kan, andersins werk Twinnigs s’n net so goed. Laat die Twinnings pot miskien so 3 minute langer staan om ‘n goed getrekte tee te verseker. As jy kan, weerstaan die versoeking van suiker in jou tee? Probeer dit en jy sal verstaan.


Resep lewer:
Baktyd:
Totale tyd:
1 Broodjie / 8 Porsies
45 minute
± 75 minute


Spesiale vereistes of toerusting:
1 x 23cm ringpan, of
1 x 1.4L brood pannetjie (22cm x 11cm x 6cm)
1 x Outydse, langtand vurk – daai soort wat Ouma nog aan haar Sondagtafel gebruik het.


Bestandele:
Vir die broodjie:

Botter, gesout en in ertjie grootte blokkies gesny
150g
Strooisuiker
150g
Suurlemoenskil, fyn gerasper
2 Medium suurlemoene s’n
Eiers, ekstra groot
3
Koekmeel
350g
Bakpoeier
7.5mL
Sout
2.5mL
Volroom melk, kamer temperatuur
350mL


Vir die stropie:

Suurlemoensap, vars en aangekoop
150mL
Bruin suiker
50g


Metode:
·         Probeer soveel moontlik van die bestandele by kamer temperatuur kry voor jy begin.
·         Smelt heel eerste ‘n klontjie botter apart en smeer die pannetjie deeglik daarmee. Stuif die pannetjie behoorlik met koekmeel en skud die oortollige meel uit.
·         Skakel solank die oond aan vir 180ºC (of 170ºC vir ‘n waaier oond).
·         Weeg en meet die koekmeel en bakpoeier uit in ‘n bak en meng goed deurmekaar met ‘n lepel. Hou dit voorlopig eenkant.
·         Voeg die botter, strooisuiker, suurlemoenskil en sout bymekaar in die mengbak van ‘n menger.
·         Gebruik die menger se plat spaan (K-beater) en begin eers meng op stadige spoed tot al die bestandele goed deur gemeng is. Skakel oor na hoë spoed en klop tot die bestandele lig en romerig is.
·         Skraap gereeld die wande van die mengerbak af om seker te maak alles word geklop.
·         Breek die eiers in ‘n aparte bakkie en meng deeglik met ‘n vurk.
·         Voeg die eiers bietjie vir bietjie by die kloppende botter en suiker mengsel. Maak seker elke lotjie is deeglik ingemeng voor jy die volgende volume byvoeg. Teen die einde mag dit lyk of die hele spul ‘skif’ – dit is normaal.
·         Haal die mengerbak uit en skraap die wande ‘n laaste keer af met ‘n mengspaan (spatula).
·         Sif en meng die meelmengsel in by die beslag al om die beurt met die melk. Voeg hierdie bestandele by in drie lotte.
·         Gebruik die mengspaan om die beslag liggies deur te meng na elke lot meel en melk bygevoeg is.
·         Wees versigtig om die beslag nie te veel te meng nie. Dit is in orde as dit lyk of daar nog droë bestandele teenwoordig is voor die volgende lot bygevoeg word.
·         Meng die beslag goed deur met ‘n paar stewige hale na die die laaste bestandele bygevoeg is en skraap die dit uit in die pannetjie. Maak die beslag gelyk bo.
·         Plaas die pannetjie in die middel van jou oond en bak 45 minute.
·         As die broodjie gaar is, sal dit hollerig klink as jy dit bo-op klop en of die kante sal begin wegtrek van die wande van die pannetjie. Jy kan ook ‘n droë sosatie stokkie reg in die middel van die broodjie indruk en onmiddelik uittrek. Bak nog 10 minute as daar kluitjierige beslag kleef aan die sosatie stokkie.
·         Haal die gaar broodjie uit die oond en gebruik die langtand vurk (of ‘n gewone tafelvurk) om die broodjie bo-op vol gate te steek. Gaan groot sonder om die broodjie te verwoes.
·         Giet die warm suurlemoenstroop in ‘n dun straaltjie egalig uit bo-oor die broodjie. Die stroop behoort maklik en vinnig weg te sak in die oondwarm broodjie.
·         Los die broodjie in die pannetjie en laat dit afkoel tot kamer temperatuur.
·         Gebruik ‘n skerp, dunlem nutsmes en maak die broodjie versigtig los van die wande van die pannetjie.
·         Plaas ‘n afkoelrakkie bo-op die broodjie en dop dit om met pannetjie en al. Klop versigtig aan die wande en bodem van die pannetjie tot die broodjie uitkom.
·         Plaas ‘n opdienbord bo-op die onderstebo broodjie en draai die hele lot flink regop en verwyder die afkoelrakkie.
·         Skuif die broodjie reg op die bord, verwyder die krummels, sny en bedien.
Vir die suurlemoenstroop:
·         Weeg die bruin suiker uit in ‘n klein kastrolletjie. Druk die sap van die gerasperde suurlemoene uit in ‘n maatbeker en vul die vlak aan tot 150mL met gekoopte sap. Voeg die sap by die bruin suiker en hou solank eenkant.
·         Terwyl die broodjie bak, omtrent so 10 minute voor dit gereed behoort te wees, verhit jy die kastrolletjie met die bruin suiker en suurlemoensap oor hoë hitte tot dit begin kook. Roer die sap en suiker mengsel  gereeld terwyl die kastrolletjie warm word. Neem weg van die hitte sodra dit begin kook en hou die suurlemoenstroop eenkant en warm.


Kommentaar:
Asseblief, moenie kommersieële suurlemoen geursel gebruik in die plek van fyn gerasperde suurlemoenskil nie. Die eindproduk gaan sinteties proe. Ons gebruik net twee domineerende smake hier hier: suurlemoen-suur en soet. Die gehalte en varsheid van die bestandele is ononderhandelbaar vir die egtheid van die geure.

Twee suurlemoene gaan nie genoeg sap verskaf vir die hoeveelheid benodig vir die suurlemoenstroop nie. Vul die uitgedrukte sap aan met die duurste gekoopte sap wat jy jou hande op kan lê. Jy soek ‘gestabiliseerde’ suurlemoensap en nie die goedkoop goed wat net sitroensuur, kunsmatige versoeter en kleursel in het nie – die sal bitter word as dit gekook word.



© RS Young 2015