Showing posts with label Die Eggo's Van My Oë. Show all posts
Showing posts with label Die Eggo's Van My Oë. Show all posts

Tuesday 13 March 2018

Beeslewer : Bittersoet Herinneringe










‘n Elegie – via beeslewer – aan my Oupa: Pieter Johannes van der Merwe


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees.

Friday 12 May 2017

Is Jy ‘Klavier’ Magtig?





Pa sou nie die simboliek agter die titel van E.L. James se opspraakwekkende Fifty Shades of Grey waardeer het nie. Pa was ‘n moeilike en reguit man, slim en boonop verbaal vaardig. Sy ongeduldige wêreld was eng wit of swart en na moer met die res – geen uitsonderings of verskonings nie. Sy woord was sy trots: sy ja sy ja en sy nee sy nee. Voorspelbaar, had hy nie juis vriende oor die verloop van sy te kort lewe nie.

Gevolglik het sy aard hom nie juis toegelaat om dom mense – ongeag status, herkoms, geslag of kleur – te verdra nie. Pa was nie skaam om sy mening te lug oor aangeleenthede wat direk op hom betrekking had of waarin hy belang gestel het nie. Dat hy meermale korrek bewys was in sy redenasies en argumente, het ook nie juis veel vir sy gewildheid gedoen nie. Tog het hy oor die jare heelwat bedaar, maar sy aweregse sin vir humor het soms die oorhand gekry in situasies waar sy gewone brutale eerlikheid of – sosiaal meer aanvaarbaar – ‘n poging tot takt beter sou gewerk het.

Pa was ‘n stoere Afrikaner, ‘n patriot en ‘n meelewende Kerkman met ‘n diepgaande empatie vir sy mede Afrikaners in verdrukking – dikwels tot sy eie en, soms, sy gesin se nadeel. Sy destydse besigheidjies se personeel was feitlik almal blank. Werwing het gewoonlik via die Christelik Maatskaplike Raad, Volkshulp 2000 en ‘n gelykdenkende bostelefoon geskied. Op sy manier – soos sy eie wisselvallige finansiële omstandighede dit toegelaat het – het hy oor dekades heen ‘n klein stukkie bygedra om sy Volk op te hef en te handhaaf. Primêr deur sy persoonlike voorbeeld en patriargale raad (gevraag of ongevraag), maar soms ook met materiële hulp soos en waar sy rieme hom dit vergun het. By die ophef van sy Volk in terme van hul daagse brood, was sy beleid eenvoudig: moenie ‘n man aanhoudend vis en chips gee nie, maar leer hom om sy eie visstok te prakseer en laat die donner dan visvang – al was dit soms onder dwang.

Besigheid gewys was Pa onvermydelik uitgelewer aan die grondboontjies-werf-apies probleem. Pa het nie geaarsel om die dagloner te betaal wat hom of haar toekom nie, maar as die kasregister nie juis breed is nie, kan jy nie eintlik MBA’s verwag nie. Pa het hierdie toedrag sonder teenstand aanvaar, maar die onvermoë om mikrobestuur te ontsnap het hom gereeld frustreer. Ironies genoeg was Pa ‘n mikro bestuurder par excellence.

Wrewel of wraaksug was nie deel van Pa se lewe nie, maar gegewe sy agtergrond en aard, was dit te verstane dat persone van kleur nie aangemoedig was om aansoek te doen vir werk nie. Waar hy ‘n geleentheid kon bied, het sy mense eerste gekom. Gewoonlik het sy liggaamstaal dit al by die voordeur duidelik gemaak dat jy, as nie-blanke werksoeker, nie suksesvol gaan wees nie. Tog sou ‘n aansoeker hier en daar die moed bymekaar skraap (miskien aangevuur deur ‘n nukkerige honger of die kommer oor hongeriges tuis) om onder daardie kwaai blik tot by die toonbank te vorder en bedees navraag te doen na die moontlikheid van ‘n werkie. Meestal sou Pa die soekende kortweg inlig dat daar nie vandag geleenthede beskikbaar is nie.

Ongereeld, as hy in ‘n goeie bui was, of die werksoeker halstarrig was om ‘n “Nee.” te aanvaar, sou hy die klavier kaart trek met die sonder uitsondering onverwagse:
“Kan jy klavier speel? Ek het ‘n klavierspeler nodig.”

Die minderheid wat rêrig verstaan het wat die oom vir hulle sê, sou dan onderlangs in die sowat agt vierkante meter, publieke deel rondloer vir ‘n klavier en moed opgee. Die meerderheid was egter desperaat en sou instem tot feitlik enige vreemde versoek, net om ‘n voet in die deur te kry.

Pa sou dan groet met:
“Nou maar gaaf, jy kan more begin.”

”Bring net jou eie klavier.”

Vandag, in hierdie era van BEE en Radikale Ekonomiese Transformasie, sou die skuimend-om-die-mond brigade Pa beslis as ‘n rassis gebrandmerk het, en erger. Destyds was hy ‘n patriot in die oë van sy eweknieë en gesindheidsgenote – groot Kerk en Volk manne. Snaaks hoe die kategorieë verander het na gelang van wie die tamboer slaan.

© RS Young, 2017

Thursday 4 May 2017

Oom, Oom? Hoor Jy My?


( Oorspronklik gepubliseer op 24.11.2013. Word hier onveranderd herpubliseer. )


Die koel, droë vingerpunte raak aan my elmboog. Ek draai om, weg van die vertoonvenster. “Oom, Oom? Hoor jy my?” Ek wonder hoe lank staan die seun al daar en probeer ongemerk my aandag trek.

Uitdrukkingloos steek hy sy hand uit. Ek sien dit gaan ‘n koue, pap en dooie handdruk wees. Ek hou my hande in my broeksakke. Ek skud in elk geval nie meer blad met uit-die-bloute vreemdelinge nie, ongeag hul ouderdom.

Ek staan uitdrukkingloos vir hom en kyk. Ek wag vir die shake down. Hy laat sak sy hand. “Kan ek oom iets vra?” Saggies, uitdrukkingloos, emosieloos.

Ek staan gevoelloos vir hom en kyk. Ek kan nie mooi hoor wat hy sê nie en leun vorentoe, nader aan die dooie gesig. “Kan ek oom iets vra?” kom dit weer saggies.

Sy oë is glansloos en dood. Hulle kyk lank vir my ken. “Het oom vir my tien rand?” Sag, gevoelloos, dood.

“Ek dra nie meer kontant by my nie.” Ek stel ‘n feit. Eentonig, droog en emosieloos. Soos in ‘n klaskamer of ‘n hof. Maar dit is ‘n vooroorgeboë leun. Ons altwee weet dit. Ons kyk uitdrukkingloos vir mekaar.

Ek kom weer regop. Die seun draai om en loop weg. Half nuuskierig drentel ek agter hom aan. Hy loop vinnig, vleg deur die ander mense. Hy stop by niemand anders nie. Ek verloor hom.

Vandat my Ma oorlede is, gee ek vir niemand meer nie.

© RS Young  2013