Monday 30 March 2020

Klewerige Gemmer & Lemmetjie Glanssous














Daar is dae waar die Heelal sy mes in het vir jou en alles – jouself ingesluit – gatkant eerste deur die wêreld neuk.

Dan kom jy huis toe, sweis jou sekuriteitshek toe, sluit jou voordeur, spoel die sleutels in die troon af, trek al die gordyne toe en haal jou selfoon se battery uit. Gaan sit ‘n halfuur of so in die stilte deurdrenkte donker en kom soortvan tot verhaal. Daarna slaat jy hierdie model aan mekaar vir jouself en jou ietwat bekommerde Beste en ervaar hoe jou siel weer naderkom aan jou ruggraat.

Die glanssous kom vinnig bymekaar en het geen uitdagings nie. Daar’s 3 groot geure wat baie mooi saamwerk en saggies speel met hoender vlerkies, vark lende tjoppies of selfs Kingklip fillette – as jou staander nou wel daai kant toe leun. Gemmer en lemmetjie net so op die rou wielvellings speel nie mooi met bees en lam nie. Inteendeel, beide moet eers bietjie ‘gebrei’ word voor jy hulle aan die skerpte van klewerige gemmer en lemmetjie voorstel.

Moenie hierdie manne probeer braai nie. Daar is te veel suiker in die glanssous en dit gaan maklik aanbrand. Gemmer hou in elk geval nie van rook nie.

Beste sal die innie-donker episode verstaan as sy eers hierdie vlerke op haar bord het. En as jy jouself gedra aan tafel, mooi luister na haar dag en die skottelgoed was, mag haar oë dalk weer ‘n slag sag word vir jou …

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Saturday 21 March 2020

Lourierblaar Poeier













Albei my Oumas sou hul hande saamgeslaan het oor die kombuis streke van die ‘moderne’ jeug. Maar Ouma hulle se kombuise en kook aanslag was miskien nie heeltemal so gesofistikeerd soos ons s’n vandag nie. Ouma en Kie was nie daagliks oorweldig met buite invloede, idees en inspirasies wat kort-kort vandag ‘n oplettende kok se harspan laat lyk soos ‘n kersboom met die liggies direk op die 3-fase kragtoevoer gekoppel nie.

Lourierblaar poeier is een van daai streke wat jy nooit geweet het jy nodig het tot jy jouself eendag katswink teen die ding vasloop nie. Maal gerus jou eie ‘n-bietjie-van-alles en kyk hoe jou kombuis weer opwinded word. Onthou om volledige notas te neem van alle toetse en pogings.

Waarsku jou huisgenote oor die komende onstabiliteit in die eksperimentele aard van jou tafel en spyskaart. Verseker hulle “Alles sal regkom!” Moenie ophou bemoedigend glimlag nie, lyk selfversekerd en moet veral onder geen omstandighede ‘n tydsduur koppel aan die komende onstabiliteit nie.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Thursday 12 March 2020

2 Kaas Kerrie Omelet






RESEP : 2 Kaas Kerrie Omelet








Die manlike hart is mos maar 'n snaakse en agterstevoorom ding. As jy nog boonop soos myself in jou voorjare jou trappe misgetrap en jou vatte misgevat het, kan die hart soms op geen kennisgewing begin hunker en hyg na daai Enetjie wat jy destyds deur jou vingers laat glip het.

En dan is alles in jou binnelewe onderstebo, en as jy jou oë uitvee, is jou buitelewe ook agterstevoor en halsstarrig omgekrap. Kort voor lank sit jy platsak in die Dal van Moedverloor, en daai ene is nooit 'n aanwins nie.

Dis dan hier waar mens jouself bymekaarskraap voor jy die laagte oppad Dal toe aandurf en jouself bietjie vertroetel met 2 Kaas Kerrie omelet. Die voorbereiding is eenvoudig en die eet nog makliker, maar die wins vir die siel is groot want die hande slaan hierdie ding op hul eie aanmekaar. Die kop hoef nie toesig te hou nie en kan die vêr agterpaaie loop terwyl die hande rasper, klop, smeer en bak en agterna opwas.

Terwyl die kop draaie loop, kan die hart bedaar. En as die lewe jou ook al 'n paar keer hard laat val het, is die koesterende eenvoud van kaas, eier en goed gebotterde roosterbrood op jou bord en in jou hart soms net die ding om 'n slag weer perspektief en die paadjie vorentoe te vind.

So terloops: die pragtige en eg Afrikaanse word vir omelet is eierstruif. Mooi, nè?


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.