Thursday 21 January 2021

Gebakte Mokka Sago Poedding

 






RESEP : Gebakte Mokka Sago Poedding (met Gestoofde Pere & Pruimedante)








Oorlidde Ouma Kowie sal seker grootoog haar hande saamgeslaan het in ongeloof met hierdie op die Sondagmiddag etenstafel. Heimlik, weet ek egter, sou sy beïndruk gewees het. Selfs ek is beïndruk hiermee!


Sago poedding het ‘n reputasie om vervelig te wees en soms rubberig – as jou gasvrou effe haastig was en haar eendjies die hele pad vol getrippel het i.p.v. mooi reguit ‘n ry gemaak het. Albei: vervelig en rubberig, is natuurlik onnodig as ons bietjie vroëer opgestaan het en ons gansies mooi bymekaar gehou het.


Oorle Ouma, ‘n uitstekende kok, het hierdie Padda Eier Poedding genoem en hoog en laag gesweer dis rêrig, rêrig padda eiertjies. Natuurlik ‘n slenter om puntenerige kleinkinders sovêr te kry om dit te eet, want met eerste oog op slag inspireer ‘n bakkie met gewone ou sago nou nie juis die beste entoesiasme in genoemde kinders nie. Ek ken grootmense wat ook hul neuse optrek vir sago poeding. Foeitog.


Ewenwel, ons kinders het Ouma se sago verslind met die morbiede entoesiasme van prille jeug. Eers later het die pennie ge-‘drop’: die grootmense het ons alweer belieg, al was dit ‘n lekker leun. Heelwat later het ek besef nogal verskeie van die ou-mense se fundamentele ‘waarhede’ was ook maar niks meer as dagdrome nie. Hierdie werklikheid (of lewe, as jy dit so wil hê) is meer as gereeld onaangenaam en ongenaakbaar in sy aanslag. Miskien was die ou-mense se fundamentele ‘waarhede’ ‘n manier om die naarheid ‘n suikerlagie te smeer in die ydele hoop dat eendag, eendag alles sal regkom. Miskien sou ons, die volgende geslag, beter en meer doeltrefende volwassenes uitgedraai het as die ou-mense van die begin af brutaal eerlik met ons was oor wat voorlê met grootword. Maar nee, toe draai dinge nie so uit nie.


Hier verstel ons so effe aan gewone ou sago poedding met ‘n nuwe koffie / mokka geur ondersteun met ‘n titseltjie van karamel en haselneut. En skielik het die ou Tier weer woema om die lyf en nuwe glans in haar diskobal – reg om die nag weer op horings te neem. Ons vervang ook die vervelige, tradisionele boksie-vla met gestoofde droë pere en pruimedante. Beide gaan verbasend goed af saam met die primêre koffie geur van die sago.  


En vrinne, familie en mede landgenote? Gaan stadig om met daai gestoofde pruimedante, parmantig soos wat hulle is. Daai pêrre het ‘n geslepe plan: té veel en hulle gaan jou laat spaander vir die naaste plônsput, ruggie holgetrek van haas met jou hakke wat tamboer tussen jou blaaie soos jy laat waai …


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.





follow 5Flavours