Dag Pa - Kruisrivier Verlange


Tempus edax rerum

Houtgerus. Dit is ‘n snaakse gevoel Pa. Jy weet nie jy het dit gehad totdat jy dit verloor het nie. Ons hedendaagse wêreld is onrustig Pa. Net soos ons lewens. Dit is seker deels hoekom die verlange my vandag ingehaal het Pa. Maar die kom al van vêr af Pa.

Ek verlang terug huis toe Pa. Terug plaas toe. Kruisrivier toe. Na die laaste plek waar ek veilig en gerus gevoel het. Die laaste plek waar die sonlig nog kristalhelder was, die wind heerlik en vars en die lewende water skoon was. Die verlange vang my vandag met ‘n kortasem beklemming Pa.


Ek mis die oopte en die ongerepte wydtes Pa. Die onbelemmerde uitsig op die horison. Die grootse vryheid, die eerlikheid van die grond, die goedheid van die gewillige aarde, die lewegewende son en die vreugde van die wind Pa. Die amper soet dagbreeklug wat jy kon teug tot jou hart in jou ore hamer en jou borsbeen uitmekaar wou skeur.

Ek verlang veral na die stiltes Pa. Die verblindende stilte van die middaguur hoog bo by die dam. Die soel stilte onder teen die voet van die rant waar die boorgatpomp in die skadus sluimer. Die nat stilte oor die wêreld heen as die kiesa-kiesa motreën dae lank ‘n grou, koue kombers oor die Oos Kaap trek. Die dralende stilte van ‘n hoogsomer namiddag waar die eentonige sonbesies eintlik net die stilte onderstreep het tot die sluimer jou kom haal het.

Maar Pa, ek mis die spesiale stiltes van die nagte die meeste. As die helder sterre sommer hier by jou uitgestrekte hand sorgeloos flikker. Die voornag se fluweelsagte donker waar die flonkerende plaasliggies wyd uitgestrooi lê oor die naglandskap van die vallei en yl teen die oorkanste hang opkruip. Die vars, seënende reuk van die windstil nanag met die belofte van dou binnekort net voor dagbreek. Die vêr-vêr roep van naguiltjies in die uitgestrekte, rustende donkerte. Die doodse stil swiep en draai van die vlermuise deur die vasgekeerde ligkring van die buitelig. Die drie ou Silwer Eike by my kamervenster wat hul eie unieke ritme en swier verleen het aan die nag Pa. Wat die nag onverwags beklemtoon het met die ritsel van vallende, leë peule of die kraak en kreun van die ouhout in die voornag se briesie.

Onthou jy die groot ou gevlekte ooruil wat so dan en wan ongesiens op die nok bo julle slaapkamer kom sit het Pa? Sy diep, eensaame hoee, hoee wat weemoedig die rustigheid van die nag getroef het. Ek wonder of dit dalk ‘n voorbode was Pa?

Ek verlang na die wind Pa. Die spelerige ritsel en ruis van die boord se blare in die somer en die onderlangse, yl gesuis van die skraal winterwindjie deur die kaal, hemelreikende takke. Onthou jy hoe mens bo by die dam op die grofgepleisterde wal kon staan en uitkyk af oor die boord uit? Hoe die wind onder ‘n helder somerson die blare soos ‘n tapyt gekam het, eers grougroen die kant toe en dan smaraggroen daai kant toe? Hoe tergende spatsels wind kort-kort sou wegbreek en stukke van die boord moedswillig in gans ‘n ander rigting in dwing? ‘n Aaneen veranderende en ruisende patroon Pa. Onstuitbaar soos die see.


Ek kon vir ure hoog teen die heuwelrand agter ons huis sit en kyk hoe die wolke se skadus traag en statig gly oor die vallei se lappieskombers daglandskap Pa. Dit was ‘n lewende, dinamiese panorama van pastelle. Die sporadiese uitdoof van die son se blink vêr teen die voorruit van ‘n kruipende voertuig soos die skadu dit ingehaal en moeiteloos verswelg het. Dit was dalk nog ‘n voorbode Pa.

Ek verlang na my stoepkamer Pa. My woonstel soos jy meestal genoem het. Soms het jy dit ‘n hool genoem as jy omgekrap was. Dit was my vaste burg teen die wêreld daar buite Pa. Vanwaar ek veilig kon uitkyk op die dinge van volwassenes wat ek meestal nie verstaan het nie Pa. Of doodgewoon net nie voor omgegee het nie. Ek dink jy het dit geweet Pa. 

Jy weet Pa, ek het eers op universiteit begin grootword. Ek kon dit nie langer vermy nie. Maar dit was nie lekker nie Pa. Ek dink jy het dit vermoed. Genadiglik was daar die vertroostende vreugde van die Universiteitsbiblioteek. Die was egter maar net ‘n skans wat die winde van verandering darem effens kon temper. Tersiêre opleiding was ‘n tweesnydende swaard Pa. Dit het my horisonne dramaties en onomkeerbaar reg rondom verbreed, maar het my ook arrogant en beterweterig gemaak Pa.


Met my honneursgraad in pag het ek teruggekyk na julle Pa, na julle omstandighede en na die relatief nou wêreld wat julle omgewe het. Jou onverstaanbare drang vir die grond en eenvoud. En ek het ‘n eed geneem Pa. ‘n Eed voor ‘n eens almagtige god dat ek nie sou teruggaan nie Pa. Ek was trots en verwaand met my nuwe kennis en visie Pa. Ek het beter geweet, beter as jy ten minste. Ek het neergekyk op julle ‘eng’ wêreldjie Pa. ‘n Nuwe landskap het oopgegaan, winkend en verleidelik. Ek was ‘n dwaas Pa.

Die naam Kruisrivier was profeties Pa, ek het nou eers begin besef. Dit was ons gesin se Rubicon. Alles was anders na ons weg moes gaan. Nie beter nie, eers nie slegter nie, maar anders. Die sleg het eers later geleidelik begin bot, aanvanklik ongesiens, toe onderlangs en nog later welig en geil. Die Kruisrivier era was die laaste keer toe alles nog OK was Pa. Al was dit teen die einde ook maar net bolangs OK.

Intussen het die winde van verandering gewaai Pa. Dit waai nog steeds en waai elke dag sterker. Vandag is dit nie meer ‘n mak wind nie. Dit is miskien beter dat jy nie meer hier is om al die dinge te sien nie Pa. Jy sou net hartseer word. En sinies. Die sinisme snuif reeds aan my hakke Pa.

Die winde het my ook maar goed rondegewaai Pa. Maar dit het uiteindelik my oë oopgemaak. Ek het begin besef wat ons verloor het Pa. Wat ek verloor het. Dit maak my hartseer Pa. En nou wil ek terug gaan Pa, terug huis toe. En nou kan ek nie meer terug nie Pa. Die wêreld het verander. Ek het verander. Ek het nou verantwoordelikhede Pa. Ek het mense wat na my opsien vir hul heil en daar is dinge van ‘n grootmenslewe wat ek móét doen. Dit neuk om regverdig te wees Pa.

Vandag is ek seker maar net nog een van ‘n groeiende groep wat terug verlang Pa. Terug na dit wat eens was en vir my generasie nooit weer sal wees nie. Hierdie is ‘n versengende wind Pa. En hy waai oor ‘n verdorrende en leë landskap. Hoe moet ek maak Pa? My antwoorde droog op.

Jou seun.

© RS Young, 2013