Monday 30 November 2020

Kruiepoeiers, of Overgesetsynde : Maghêftertjies

 






RESEP : Kruiepoeiers








Soms kom daar ‘n tyd in ‘n man se lewe waar jy die bul by die horings moet pak en groot gaan. Jy moet aan jouself kan bewys jy’s meer as net ‘n oulike gevreetjie en ‘n paar stywe boudjies. Ten spyte van populêre en populistiese opinies het jy tog ‘n binneste. Jy steek dit net goed weg.


Maar jy wil darem ook nou nie té groot gaan nie. Netnou ontwrig jy jou naaste naastes se geloof in jou so erg dat hulle begin wonder of jy op die drumpel is om daai gewraakte “midlife crises” ding op te saal. Dalk kom jy oormôre tuis met ‘n parmantig-stywe blondine en ‘n blink nuwe BMW Z4? Niemand van ons het tog sulke soort van onverdeelde aandag in jou lewe nodig nie.


Kruiepoeiers is ‘n onopgesmukte manier om jouself sonder ophef aan jouself te bewys. En, terwyl jy besig is daarmee, om dalk ook so ‘n klein bietjie te dink oor jouself, die wêreld rondom jou, die mense daarin en jou plek in hierdie wêreld rondom jou. ‘n Introspeksie in die kleine, as’t ware. Miskien is dit ‘n geleentheid om jou selfperspektief weer bietjie af te stof en die ding ‘n slag goed te bekyk. Wie weet, dalk merk jy ‘n dowwe kol op wat kan doen met ‘n terpentyn lappie se aandag?


Kruiepoeiers is een van daai maghêgftertjies (om oorle Oom Pieter Pieterse aan te haal)  wat jou laat wonder waarom het jy nog nooit vantevore hieraan gedink nie? Dit hoort mos ongetwyfeld in jou spreekwoordelike kombuis gereedskapkissie saam met al daai ander katoetertjies en “moves” wat jy gebruik om aan jouself en die heelal te bewys jy is waardig om jouself in die kombuis in te begewe (en in die lewens van jou naaste naastes). Jy het tóg respek vir jouself, jou naastes en die bestandele op die snybord hier voor jou. Jy gaan die beste wat jy kan uithaal uit jou bestandele en jouself, sonder vertoon, truuks of oë verblindery. Jy IS waardig.


Die voorberei van kruiepoeiers is nie ‘n uitdaging nie. Gaan leen ‘n elektriese koffiemeuletjie by iemand as jy moet en maak jou eie maghêftertjies. By die eerste gebruik van jou eie gaan jy weer wonder waarom jy nog nooit vantevore hieraan gedink het nie. En as jy bietjie verder tob hieroor (en jouself) gaan jy begryp die geleenthede is legio waar om orals kruiepoeiers te gebruik. En, as jy boonop volhard in die dowwe kolle uitpoets, mag jou naaste naaste se waardering vir jou dalk groei en gedy. En wie weet, dalk vind twee ou bekende harte nuwe vreugde en vrede wat ophef en verenig in ‘n suiwerste heiligheid.


Net so ‘n laaste aanmaningtjie:  onthou om die koffiemeuletjie terug te gaan gee.


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.