My Profiel

Waarom?

Ek skryf oor mense. Die mense wat my gemaak het wat ek is en ook my wedervaringe in hierdie wêreld. Ek ontferm my oor die randelemente in ons samelewing, die 'onsigbares' wie se stemme nooit gehoor sal word nie. Soms is my stories waar, soms nie. Oordeel self.

Ek skryf sodat jy, Leser, moontlik 'n stukkie sal peins oor jou eie bestel. Sodat jy miskien effe fyner daarna sal kyk. En dalk, dalk mag jy iets hieruit neem om jou eie lewe mee te verryk. Let wel, ek is geen wysgeer of alwetende nie. Ek struikel ook maar in my eie lewe. Ek is 'n onrehabiliteerbare sinikus en my temas is soms donker, soms lig. Ek skryf soos ek hierdie wêreld sien en ervaar. Ek is wat ek is.

Die Resepte

Ek berei graag die geregte en gebak van my jeug voor: die kos van die Vroue wat my groot gemaak het. Die meeste van hierdie dames is nie meer hier nie. Van my resepte is dus ‘n manifes van die herinneringe van my hart. Sommige disse doen ek net so goed soos hulle, baie kan ek nie so goed doen nie en ander kan ek ietwat verhef weens beter tegnologie en ‘n wyer kennis en moderne begrip van tegnieke en vir die bestandele.

Destyds was ‘n jonger Ek verslaaf aan komplekse resepte met ellelange lyste bestandele – sommiges heel ongewoon – en gereeld met gevorderde kooktegnieke as vereistes. Daardie dae is verby. Bekruipende middeljare het ‘n snars wysheid, tikkies insig en ‘n skeut bedaring gebring. Maar ons hou steeds van lekker eet en dit word hopelik in my eie resepte en aanslag weerspieël.

Hand aan hand met my resepte gaan respek. Moontlik is eerbied ‘n meer gepaste woord. Eerstens respek vir myself, vir die mense wat ek lief het en vir diegene wat elke dag oor my lewenspad kom – hoe kortstondig ookal. Tweedens is dit respek vir die wêreld rondom my: die gewillige aarde, die lug wat ons almal inasem en die lewende organismes wat hierdie planeet met ons deel.

Sommige van hierdie lewende organismes sal bestandele word vir die voedsel wat ek en jy gaan eet. Feitlik alle voedselbestandele was êrenste ‘n lewende dier, plant of organisme. Dit het gelewe en gesterwe sodat ons: ek, jy en ons naastes gevoed en verkwik kan word, sodat ons lewens mag aangaan en gedy. Meestal het hulle nie enige seggenskap of vrywillige keuse oor hul deelname (en lot) in hierdie proses gehad nie. Gevolglik het ons des te meer verantwoordelikheid om ons bestandele te respekteer en verantwoordelik daarmee om te gaan.

O ja, 'n laaste lastigheid: ek is 'n chemikus. Ek het my opleiding ontvang in die desimale stelsel en weier om koppies, eetlepels, ponde of onse te gebruik. Elektroniese kombuis skale is vandag oral beskikbaar en hul pryse is billik. Belê gerus in ene.

Ekke

Ek is Robert: ‘n middeljarige, Afrikaans sprekende vrygesel. Alhoewel ek vandag 'n kok van beroep is, werk ek daagliks direk met die publiek. Mettertyd begin dit enige mens se uitkyk op die lewe en oor jou medemens vorm en druk. Jean Paul Sartre het baie goed geweet:

"L'enfer, c'est les autres"

Gevolglik skryf ek oor die dinge wat ek raaksien in my wêreld, my eie wedervaringe en die in my beroep. En soms, net soms skryf ek van my naastes. Ek skryf oor dit wat ek verstaan, kennis van dra of ‘n aanvoeling voor het. My idees is soms dalk effe aweregs, soms effe sinies of soms dalk eng ortodoks. Jy sal my maar so moet opgebruik. Ek is wat ek is.

Ek is die pleger van hierdie blog. Heelwat mense het tot ‘n mindere of meerdere mate een of ander skeppingsdrag of -behoefte. Hierdie is my podiumpie. Ek hoop jy geniet jou inloer en vind dalk aanklank by wat ek te sê of vertelle het. Sou jy eerder wou aanbeweeg, wens ek jou vrede en voorspoed toe. Mag die meetsnoere mooi val vir ons almal.

Heil die leser.



© RS Young 2015