Wednesday 30 December 2020

Appelkoos Hoender Dye, Oondgebak


 




RESEP : Appelkoos Hoender Dye, Oondgebak







So reg in die styl van die 70’ers en 80’ers toe hierdie gereg nogal gewild was. Hedendaags, kry ek die gevoel, het dit effe uit guns geraak, wat jammer is. In my opinie is dit ‘n klassieke gereg wat baie gewild was in vervloë se dae en verdien om nou en dan weer afgestof te word soos hier.


Moeder was nogal lief hiervoor ten spyte van Pa se duidelike tekort aan entoesiasme. Ek vermoed appelkoos hoender was een van Ma se klein rebellietjies as Pa weer die week ekstra moeilik en op sy nukke was. Hoe dit ookal sy, ek was mal hieroor. Ma het dit gewoonlik vir ‘n Sondag middagete voorberei, altyd saam met haar sagte, pluiserige wit rys. Veral na ‘n lang week, want die hoender stukke was ge-blatjang, ge-vrugtesap en vertroetel met ander dingetjies wat ek nie kan onthou nie, tot my spyt. Die hele kaboel was dan oond toe en het Ma kans gegee om bietjie rustiger te wees, vier telge ten spyt.


Sien, Kiep het destyds gelewe om te eet. Hoe groter die volume beskikbaar ter tafel, hoe groter die persoonlike opraap-en-opvreet entoesiasme. Vandag gril ek vir myself as ek terug dink aan daardie dae. Maar nou ja, ons leef en ons leer (al is die ‘leer’ net soms).


Ma was ‘n uithaler kok van wit rys en ek vermoed sy was erg trots daarop. Vandag sukkel ek om halfpad naby aan haar sagte en pluiserige rys, altyd spierwit en maagdelik, te kom. Haar rys het ‘n half onbehoorlike entoesiasme vir sous gehad. Sodoende dat selfs ek, in my jeugdige oordaad, dit opgemerk het. Ek kon my verkyk aan hoe ‘n skeplepel vleissous wegsak in haar losserige rys, traag en onstuitbaar. Hoe elke ryskorrel glinsterend omvou word in sous en dit buite-om deel word van elke ryskorrel, amper soos ‘n sagte, glipperige skil. Maar jy moes ook nie oordadig staan en raak nie, anders had jy ‘n see van sous met ryskorrels hier en daar. Dan was jou huisgenote nukkerig want jy het al die sous verswelg en Pa is ontstig omdat jy ‘n lepel gaan haal het om als in te skoffel. En beskaafde mense eet nie met ‘n lepel nie.



Ma se appelkoos hoender het nooit juis geproe na appelkoos nie, maar altyd na ‘n vervloeisel van net-net onidentifiseerbare, gebakte subtropiese vrugte.En daai gemoedelik knibbelende ondertoon van bruin asyn wat in ‘n oond was. Jy weet mos? “Oond asyn” het sy aggresiewe, dreigende houding verruil vir die getemperde besadiging van ryp middeljare. En saam met die geur van stadig gebakte hoender het dit verweef in ‘n hemelse kombinasie (die mooi Franse word is mélange) wat jou gees onderskraag en ‘n alles vergewende moeder liefde bevestig het.


Ek (in my eie nukkerigheid) verkies my geregte om duidelik en trou aan hul hoof bestandele te proe en smaak. Die resep hier beklemtoon die suiwer appelkoos smaak, onderskraag met die sagte, soutige fondasie van stadig oondgebakte hoender. Geen ander fieterjasies of subversiewe elemente wat die mond net pootjie en ontsenu nie.


Bedien dit saam met jou beste, voetjie-voorsit wit rys, flosserige cous-cous of selfs Basmati rys. Ewe parmantig gaan die aanwending van ‘n koue Viognier of ysige Gewürtztraminer hier ook wees. 


En dek ‘n lepel saam met jou vurk vir daai laaste mondvol kokketterige rys en sous wat net aanhoudendmet die vurk wil flankeer en terg? Ons is almal grootmense hier.


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.



follow 5Flavours


Monday 28 December 2020

Geurige Karringmelk Wafels vir Soutige Vulsels

 






RESEP : Geurige Karringmelk Wafels vir Soutige Vulsels






Want soms, net soms, raak brood te veel. ‘n Ketterige bekentenis, ek weet! Veral vir ‘n uitgerysde brood soos ekke. Sug …


Hierdie karringmelk wafels is nie so sag en bros soos vars, Belgiese styl wafels nie. Ook nie soet nie. Hierdie kêrels bied boonop ook ‘n effe weerstand teen die tanne. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie! Hulle is nie taai nie, net voldoende kou-erig sodat hulle my tipiese skopgraaf tegniek kan weerstaan waar te veel van gister se Bief Stoganoff, kerrie maalvleis of hoender mayonnaise opgelaai word. Wat kan ek sê: ek is ‘n bok vir volume maat. Sug  …


In iedere geval, hierdie wafels werk goed vir ‘n ligte middagete as jy reeds in die proses en oploop is na ‘n gawe gekookte aandete. Jy wil jouself nie dik eet nie, anders raak jy lui en agter, maar jou binneste het nodig om versterk en bemoedig te word. En jy wil darem die maag, mond en tanne opbeur: daar is hoop vir later.


Overgesetsynde werk dit net so goed vir ‘n ligte en luierige Saterdag oggend brekkie. So net voor die dag wegspring en jy nog in jou ‘bietjie-langer-lê’ modaal is. Probeer hierdie wafels met ‘n romerige roereier en peper salami. En gebruik geduld met daai roereier? Vertroetel en pamperlang hulle met aanhoudende aandag. Verduidelik aan hulle, wyl jy hulle sagkens omroer en omroer, dat jy leef in hoop. Wie weet, dalk trek die dag opwindend weg na jy mammie met hierdie brekkie in die bed verras het. Die hoop en inisiatief beskaam mos nie.


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.



follow 5Flavours


Thursday 24 December 2020

Hoender Mayonnaise met Houding

 





RESEP: Hoender Mayonnaise met Houding







Hoenners! Hoenners tree aan! Geen hoenner hoef agter te bly nie!


Sien jy die drie uitroeptekens? Neem kennis: hierdie is ‘n ernstige en gewigtige saak.


Miskien is my verbeelding op hol, maar ek kry so by so die gevoel onse geduldige hoender mayonnaise vulsel het ongesiens in ‘n verslonsde en stowwerige Aspoestertjie verander terwyl almal met ander dinge besig was. En dit ontstig my nogal. Selfs die ongekunstelde battery hoender wat nog nooit toornige donderwolke op die kim, die vlam-oranje-rooi van ‘n laatsomer sonsondergang of selfs net ‘n knorrige oogpister gesien het nie, verdien darem ‘n skeutjie respek. Onthou bietjie, die breinlose ding moes dood sodat ek en jy gevoed kan word, dat ons lewens mag aangaan en – hopelik – gedy. Vir seker het daai Kiep onwillig gesterf ongeag hoe benoud en eng sy wêreldjie ookal was.


Om nou daai doodgekookte borsie uitmekaar te flans en sommer die eerste en beste kiewe-oppe-knop mayonnaise haastig by te werk sodat ons geliefdes darem iets beter kan werk of skool toe neem as heel laasweek se afskeep Marmite & kaas toebies (waaroor ons so skuldig voel), is darem ‘n effe onregverdig teenoor Kiep. Dink jy nie ook so nie? Dit is altemit net geduldige ou Kiep, maar nog steeds, Kiep verloor baie meer as ek en jy in hierdie toebie bedeling.


So, ons reseppie hier vertroetel en pamperlang ou Kiep om sy beste te gee, net soos ons ook graag ons beste vir ons geliefdes en naaste naastes wil gee, self al was hulle netnou ‘n ietwat kortaf met ons. Jy stowe (‘simmer’ in Ingels) jou been-in borsies geduldig saam met seldery, wortel, ui, knoffel en ‘n lourierblaar of drie. Dan laat jy die net-net gaar hoender afkoel in sy eie aftreksel, verkieslik oornag in die yskas, en more oggend bewerk jy daai koue hoender en doen soos in ons reseppie aangedui word. Verkieslik moet die hoender mayo ‘n dag staan in die yskas om bekwaam te raak. En dan is die omtrek van jou eie verbeelding die enigste grens vir wat jy alles met daai verhewe hoeder mayonnaise kan doen.


En as jy mooi kyk, mag jy hopelik ‘n nuwe vlak van respek in jou geliefdes se oë sien en ‘n verhewe geduld en deernis teenoor jou voel aanspoel.



Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.