Wednesday, 30 December 2020

Appelkoos Hoender Dye, Oondgebak


 




RESEP : Appelkoos Hoender Dye, Oondgebak







So reg in die styl van die 70’ers en 80’ers toe hierdie gereg nogal gewild was. Hedendaags, kry ek die gevoel, het dit effe uit guns geraak, wat jammer is. In my opinie is dit ‘n klassieke gereg wat baie gewild was in vervloë se dae en verdien om nou en dan weer afgestof te word soos hier.


Moeder was nogal lief hiervoor ten spyte van Pa se duidelike tekort aan entoesiasme. Ek vermoed appelkoos hoender was een van Ma se klein rebellietjies as Pa weer die week ekstra moeilik en op sy nukke was. Hoe dit ookal sy, ek was mal hieroor. Ma het dit gewoonlik vir ‘n Sondag middagete voorberei, altyd saam met haar sagte, pluiserige wit rys. Veral na ‘n lang week, want die hoender stukke was ge-blatjang, ge-vrugtesap en vertroetel met ander dingetjies wat ek nie kan onthou nie, tot my spyt. Die hele kaboel was dan oond toe en het Ma kans gegee om bietjie rustiger te wees, vier telge ten spyt.


Sien, Kiep het destyds gelewe om te eet. Hoe groter die volume beskikbaar ter tafel, hoe groter die persoonlike opraap-en-opvreet entoesiasme. Vandag gril ek vir myself as ek terug dink aan daardie dae. Maar nou ja, ons leef en ons leer (al is die ‘leer’ net soms).


Ma was ‘n uithaler kok van wit rys en ek vermoed sy was erg trots daarop. Vandag sukkel ek om halfpad naby aan haar sagte en pluiserige rys, altyd spierwit en maagdelik, te kom. Haar rys het ‘n half onbehoorlike entoesiasme vir sous gehad. Sodoende dat selfs ek, in my jeugdige oordaad, dit opgemerk het. Ek kon my verkyk aan hoe ‘n skeplepel vleissous wegsak in haar losserige rys, traag en onstuitbaar. Hoe elke ryskorrel glinsterend omvou word in sous en dit buite-om deel word van elke ryskorrel, amper soos ‘n sagte, glipperige skil. Maar jy moes ook nie oordadig staan en raak nie, anders had jy ‘n see van sous met ryskorrels hier en daar. Dan was jou huisgenote nukkerig want jy het al die sous verswelg en Pa is ontstig omdat jy ‘n lepel gaan haal het om als in te skoffel. En beskaafde mense eet nie met ‘n lepel nie.



Ma se appelkoos hoender het nooit juis geproe na appelkoos nie, maar altyd na ‘n vervloeisel van net-net onidentifiseerbare, gebakte subtropiese vrugte.En daai gemoedelik knibbelende ondertoon van bruin asyn wat in ‘n oond was. Jy weet mos? “Oond asyn” het sy aggresiewe, dreigende houding verruil vir die getemperde besadiging van ryp middeljare. En saam met die geur van stadig gebakte hoender het dit verweef in ‘n hemelse kombinasie (die mooi Franse word is mélange) wat jou gees onderskraag en ‘n alles vergewende moeder liefde bevestig het.


Ek (in my eie nukkerigheid) verkies my geregte om duidelik en trou aan hul hoof bestandele te proe en smaak. Die resep hier beklemtoon die suiwer appelkoos smaak, onderskraag met die sagte, soutige fondasie van stadig oondgebakte hoender. Geen ander fieterjasies of subversiewe elemente wat die mond net pootjie en ontsenu nie.


Bedien dit saam met jou beste, voetjie-voorsit wit rys, flosserige cous-cous of selfs Basmati rys. Ewe parmantig gaan die aanwending van ‘n koue Viognier of ysige Gewürtztraminer hier ook wees. 


En dek ‘n lepel saam met jou vurk vir daai laaste mondvol kokketterige rys en sous wat net aanhoudendmet die vurk wil flankeer en terg? Ons is almal grootmense hier.


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.



follow 5Flavours