Dag Pa – Highlands 2015, 'n Besoek



Ek was plaas toe oor Desember, Pa. Jou plaas Pa: Highlands . . . en ons plaas. Die eerste besoek in 27 jaar. Dit was ‘n reis die verlede in Pa, diep die sluiers van my onthou en die warboel van my hart in. Oppad het ek jou gereeld in die vêrste hoeke van my oë gesien Pa, oomblikke lank orals en tog ook nêrens.

Oppad, reeds ‘n lang, lang ent voor die plaas, het ek probeer om my onthou van die landskap en omgewing van my jeug naatloos neer te sit – soos vae potlood buitelyne op die dowwe deurlaatbaarheid van natrekpapier – oor daardie werklikheid. Dat ek kon sien of wat ek onthou van die plekke wat vir my betekenis had, nog ooreenstem met vandag se gevoellose werklikheid.

Dit het net hier en daar gewerk Pa. Dit is asof die landskap van my onthou 15 kompasgrade weg van 12 gekantel het Pa. Amper niks is vandag meer rêrig presies soos ek dit onthou nie Pa. Daardie werklikheid ken my vandag nie meer nie. Daardie werklikheid het aanbeweeg Pa. Was ons wêreld destyds so anders Pa, of het my onthou geglip? Ek sukkel om dit uit te pluis, Pa.

Baie is nog dieselfde Pa, maar alles is ook anders.



Jou boord is nie meer daar nie Pa. Die nuwe oom het dit uitgehaal. Dit is ‘n lelike, verpletterende seer Pa. Ek het nie woorde nie, Pa. Waar ek die woorde moet gaan soek is net ‘n rasend stikkende duisternis.

Ons huis is ook nie meer dieselfde nie Pa. Dwingend hartseer is Ma se tuin en rose ook weg. Net jou grasperk is nog daar Pa, en jou swembad: net so groen soos destyds. Daai grasperk wat ek op skool elke week ‘n hele Vrydagmiddag aan spandeer het met jou verpestelike Robin petrol grassnyer.

Jou destydse jong wilde vy het kolossaal geword Pa. Dit verskaf lafenis vir ‘n algaar wat in die fleur van sy verwelkomende skaduwee beland Pa. ‘n Heerlike, liggies sonverkolde skadu wat gemoed en siel laaf Pa. Wou dat ek ook so lewenskragtig en reikhalsend kon gedy soos daardie vy, Pa. Helaas.



Jou dam staan steeds daar bo teen die heuwel se kneukel, aan die einde van die tweespoor paadjie op na die arbeiders se huise toe Pa. Dit staan nog steeds ‘n self-ingekeerde, onverstoorbare baken midde in die sonbesies se sielspriemende geskreeu die stiltes in. Die sussende draal van die hoogsomer middagson teen my gesig met die koel, klam damwal teen my rug is nog altyddeur daar Pa. My hart wou bars van blydskap, Pa.

Die nuwe oom sê hulle moes jou ou boorgat skuif nadat dit toegeval het Pa. Die nuwe boorgat se water kronkel immer nog stewig en sterk uit by die bek van jou blou boorgatpyp, Pa. Net soos destyds huppel en plas dit kristalhelder en onge-erg vrolik die dam in – ‘n uitbundige stroom glansend verskietende sterre onder die helder somerson. Nog altyd ‘n yskoue, hartverwarmende straal lewe Pa.

Ironies genoeg, proe die water by die bek van die pyp nog steeds na yster, net soos 27 jaar gelede. Ek het immers destyds vermoed die stadig verroesende boorgat voeringpype was die oorsaak. Toe was dit al die tyd die klankie van daardie stuk wêreld se fondament.

Ek het op die damwal geklim en probeer uitkyk oor waar jou boord eens gestaan het Pa. Die gierige hoogte van jou laning windbreuk bome het dit verhoed Pa, wat miskien ‘n goeie ding was, anders sou ek weggeval het in die skril yltes van my gemoed in.

Baie is nog dieselfde Pa, maar alles is ook anders.

Jou kantoor en werkswinkels is nog daar Pa. Die kantoorhoek, wat ek daai Saterdag oggend in my oorhaastigheid raak gery het met my nuwe, eerste motor, dra steeds sy litteken. Die voorhof betonblad is nog net so verblindend skerp in die hoogsomerson en die werkswinkels se wye ingange is nog steeds ligverswelgende duisternisse wat hul ruimtes se inhoud verskans agter ‘n oorweldigende kontras tussen lig en donker.

Die heuwel agter die opstal is onveranderd Pa. Dit staan ‘n ewig onuitwisbare breekwater teen die eb en vloed van die tyd Pa. Onpeilbaar en onveranderlik: ‘n historiese anker in my gedagte landskap. Die vallei is feitlik net soos ek dit onthou Pa. So ook die vallei vloer se lappieskombers van landerye wat alewig die wolk skaduwees knus en gemoedelik kielie op hul immer statige reis oor die landskap heen die onbekende, sluimerende vêrtes in.

Maar jou boord is nie meer daar nie Pa. Jy ook nie. Al het ek fyn en deeglik vir jou gesoek Pa. Die dwingende hartseer van Ma en haar rose het ook opgestaan daardie dag Pa en aan my strot en hart kom rem. Ek het julle daardie dag nog meer gemis my Pa, met die angstig hunkerende totaliteit van my siel, wese en gemoed.

Ou Salomo was reg Pa: wêreldse dinge kom tot niks. Dit is alles ‘n gejaag na wind. Net soos die wispelturige suid ooster wat daardie dag bo by die dam venynig – amper vyandig – deur jou windbreuk geswiep en kwispel het. Ek het video en klankgreep opnames daarvan gemaak Pa. Sodat ek oor die komende jare oor en oor daarna kan kyk, kan luister en kan onthou Pa: alles kom tot niks.

En dit is miskien die belangrikste Pa: die onthou. Want op die ou einde is dit al wat ons oor het van dit alles Pa: die sieraad van ons – jou kinders – se herinneringe, elk van ons se eie onthou, ‘n paar verbleikende fotos en die littekens wat die plaas oor elk van ons se velle en siele gelaat het.

Highlands was die sieraad van jou lewe Pa. Highlands was die ankerende bastion van jou wese en bestaan. Die eenvoud van die grond het jou deeglik verstaan waar ons meermale nie kon nie, Pa. Op jou sonderlinge manier het jy en Highlands gehelp om ons kinders te vorm en bewerk tot die mense wat ons vandag is Pa. Maar die naïewe afgesonderdheid wat jy en Highlands was, het ons ook terug gehou in ons lewens Pa. Op die ou einde het alles maar ‘n prys Pa. Highlands se prys was subtiel en ontwykend, maar alles deurdringend. Jou prys was hoër, heelwat hoër.

Baie is nog dieselfde Pa, maar alles is ook anders.

My plaasbesoek was beide lig en swaar, Pa. Dit was ‘n helende blydskap om ‘n kwarteeu later weer daardie wêreld te sien en ‘n opbeurende, hartwarm voorreg om weer oor jou grond te loop en van jou water te drink. Maar ek het weer bewus geword van my aanhoudende, dreunende hunkering om ‘n onskuldige, sielsvoedende stilte te gaan soek weg van hierdie wêreld, sy gepeupel en gedruis, en my sinlose bestaan daarin.

Helaas . . .

Ek vermoed jy het ook na hierdie stilte gesoek my Pa. Het jy dit op Highlands gevind en weer verloor?

Rus sag my Pa. Rus in vrede. En rus, my verward-verdwaalde hart.

Jou seun


Tempus edax rerum
(Time, that devours all things)
Ovid, Metamorphoses, 15, 234-236

© RS Young, 2016