Thursday 24 December 2020

Hoender Mayonnaise met Houding

 





RESEP: Hoender Mayonnaise met Houding







Hoenners! Hoenners tree aan! Geen hoenner hoef agter te bly nie!


Sien jy die drie uitroeptekens? Neem kennis: hierdie is ‘n ernstige en gewigtige saak.


Miskien is my verbeelding op hol, maar ek kry so by so die gevoel onse geduldige hoender mayonnaise vulsel het ongesiens in ‘n verslonsde en stowwerige Aspoestertjie verander terwyl almal met ander dinge besig was. En dit ontstig my nogal. Selfs die ongekunstelde battery hoender wat nog nooit toornige donderwolke op die kim, die vlam-oranje-rooi van ‘n laatsomer sonsondergang of selfs net ‘n knorrige oogpister gesien het nie, verdien darem ‘n skeutjie respek. Onthou bietjie, die breinlose ding moes dood sodat ek en jy gevoed kan word, dat ons lewens mag aangaan en – hopelik – gedy. Vir seker het daai Kiep onwillig gesterf ongeag hoe benoud en eng sy wêreldjie ookal was.


Om nou daai doodgekookte borsie uitmekaar te flans en sommer die eerste en beste kiewe-oppe-knop mayonnaise haastig by te werk sodat ons geliefdes darem iets beter kan werk of skool toe neem as heel laasweek se afskeep Marmite & kaas toebies (waaroor ons so skuldig voel), is darem ‘n effe onregverdig teenoor Kiep. Dink jy nie ook so nie? Dit is altemit net geduldige ou Kiep, maar nog steeds, Kiep verloor baie meer as ek en jy in hierdie toebie bedeling.


So, ons reseppie hier vertroetel en pamperlang ou Kiep om sy beste te gee, net soos ons ook graag ons beste vir ons geliefdes en naaste naastes wil gee, self al was hulle netnou ‘n ietwat kortaf met ons. Jy stowe (‘simmer’ in Ingels) jou been-in borsies geduldig saam met seldery, wortel, ui, knoffel en ‘n lourierblaar of drie. Dan laat jy die net-net gaar hoender afkoel in sy eie aftreksel, verkieslik oornag in die yskas, en more oggend bewerk jy daai koue hoender en doen soos in ons reseppie aangedui word. Verkieslik moet die hoender mayo ‘n dag staan in die yskas om bekwaam te raak. En dan is die omtrek van jou eie verbeelding die enigste grens vir wat jy alles met daai verhewe hoeder mayonnaise kan doen.


En as jy mooi kyk, mag jy hopelik ‘n nuwe vlak van respek in jou geliefdes se oë sien en ‘n verhewe geduld en deernis teenoor jou voel aanspoel.



Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.