Wednesday 13 May 2020

Die Ingekerkerde Vark







RESEP : Die Ingekerkerde Vark

Of: Geurig Aromatiese Knoffel en Kruie Invryf Bedryf









Hierdie is ‘n vinnige invryf reseppie met ietwat ongewone bestandele wat mens nou nie eintlik met jou gunsteling varktjoppie vereenselwig nie. Maar die varkie sal diep dankbaar wees as jy hom uitvoer, want roosmaryn; vinkel; jenewer; lemoen; knoffel en lourierblaar doen algaar saam dinge aan ‘n wielneus wat selfs die mees preutse engel bewerig en ongeduldig gaan maak om aan jou tafel te kom sit.

En synde ons nou hierdie Covid-19 grendel periode teen wil en dank maar moet verdra en verduur, beteken dit nie dat jy jouself en jou huisgenote nie hier en daar mag pamperlang nie. Om angstig en hande wringend te wag vir hierdie ondermaanse om die Covid-19 beker met sy bitter-als en asyn verby te laat gaan is tog totaal onnodig. Lekker eet en goeie samesyn was nog altyd erg genoeë met mekaar se geselskap. En as dié twee goed met mekaar klaar kom, is daar vrede in jou en jou beste se harte en kan jul harte weer nader aan mekaar kom en in mekaar opgaan.

Nou die slegte nuus:
Eerstens, die vroetelsnoet wat jy met hierdie invryf reseppie vertroetel het, wil nie gebraai word nie. Jammer manne, maar vinkel, jenewer en lemoen verdra nie rook nie. Jy gaan hierdie tjoppies geduldig pan braai of in die oond bak.
Tweedens, jenewer bessies lê boonop ook nou nie sommer vir kleingeld en naasteliefde in enige vaardige kok se gatsak rond nie. As jy hom nie kan opspoor by jou plaaslike fênsie winkel nie, kan jy ‘n droë jenewer soos Beefeater so halfpad deur die braai proses by die pan voeg. Ek sou sê so ‘n kwart koppie vir twee parmantige tjoppies.

En om Vadersnaam, moenie daai borrelende jenewer in ‘n oomblik van passie probeer flambé nie!!! Gin neem nie gevangenes, gyselaars of sissies nie. Die hitsige vlamkolom wat wraakgierig uit daai pan gaan opstaan gaan met wreedaardige oorgawe jou wenkbroue en ‘n gawe stuk baard en snor wegvat as jy daai stemmige vuurhoutjie voorstel aan die sissende pan. Jou selfrespek en waardigheid (én rooi onderbroek) gaan nooit ooit weer agterna dieselfde wees nie, veral nie as Ma so onderlangs vir jou gegiggel het na jy flink en verskrik ‘n besige riel voor die stoof gedans het om daai gulsige vlam dood te kry voor jou damp uittrekker se filters smelt en saam begin braai nie. Beskou jouself as gewaarsku want ek was al daar …


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.