Friday 29 March 2019

Oond Geroosterde Spek & Eier Mayonnaise Vulsel




Oond Geroosterde Spek & Eier Mayonnaise Vulsel






So ‘n ietsie anders vir daai dae waar die gewone draal nukkerig vervelig is en jou siel sug vir ‘n andersheid.


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Dank by voorbaat vir u begrip.

Wednesday 6 March 2019

Die Wolmuis

Haai Johan, ek het jou eergister oggend amper nie herken met daai welige ding op jou kop nie. Dit het my ‘n rukkie geneem om te besef dit is jy onder daai geil haarstuk. Ek het nooit geweet die bles pla jou só erg nie! Johan, jy het nogal uitgelese gelyk met jou bles, soos ‘n man wat weet wat hy wil hê.
Sjoe Johan, weet Magda van die blinkoog meisie wat so aan jou arm gehang het? Wat sê sy van hierdie affêre Boeta? Wat sê jou kinders Johan? Goeiste Johan, daai kalfie-oog popsie kan nie veel ouer as Erika wees nie? Erika is mos nou finale jaar, nie waar nie?
Ek het gesien jy dra nie jou trouring nie, Johan. En daai plat, blink SLK? Waar is jou netjiese 4x4 waarmee julle gesin so graag gaan kamp het? Het jy Magda en die kinders ook reeds klaar ingeruil vir hierdie parmantige sport modelletjie? Johan, ek wil nie voorspooksels opjaag nie, maar daai nuwe waentjie lyk bietjie laag op die grond vir potbrood knie en in die veld gaan hurk Boeta.
Ou Johan, dit is seker nie my plek om dit so prontuit vir jou te sê nie, maar daai ding op jou kop lyk soos ‘n verskrikte vlakhaas wat agterstevoor onder ‘n ruie wag ‘n bietjie bos uitgesleep is. Ek het my proes maar hard gesluk want die girl het reeds ongemaklik gelyk. Miskien was julle maar net haastig oppad terug kantoor toe?
Goeiste Johan, ek wonder hoe kry jy dit reg om by te hou by daai wolmuis? Te oordeel aan jou vatterige hand en haar vriendelike boudjie hou jy sovêr nog goed by. Hel Johan, sy kan rêrig nie ‘n dag ouer wees as Stefan se verloofde nie! Sjoe ...
Kan jy darem sonder ‘n blou pilletjie nog roer onder die lakens as daai girl bed toe getrippel kom in haar fynste kantkatoetertjie, Johan? Ek hoop jou apteker gee jou grootmaat afslag op die blou pilletjies en die Bioplus? Gelukkig is jy die Senior Vennoot, ek glo jou kredietkaart staan styf in vir die papperigheid in jou manlikheid.
Slaap jy snags Johan? Jou oë eergister het my laat wonder. Waaraan lê jy en dink in die stil dieptes van die nag Johan? Hoop jy die wolmuis gaan help vir die spyt wat te laat gaan kom? Voel jy ooit skuldig Johan? Wéét jy van alleen wees op jou oudag?
Aarde Boeta, waar is Magda? Julle was hoe lank saam – 34 jaar, nie waar nie? Ek het Magda nog altyd net bewonder Johan, sy het my ‘n voorslag opgeval. En jou kinders Johan? Ek wonder wat dink hulle deesdae van jou?
Eishh Johan, hoe lank dink jy gaan daai popsie volhou met met die 20 minute wag tot daai blou bulpil inskop? Ek kan nie help om te wonder of sy nog só geduldig gaan wees na Magda se regspan met jou klaar gemaak het nie? Ek vermoed hulle gaan nie blou pilletjies nodig hê nie. Dalk moet jy begin pleisters bymekaar maak Boeta?
Hêrre Johan, is jy gelukkig? Is jy rêrig gelukkig?
Haai ou Johan ...
© RS Young, 2019