26 November 2016
Dag Pa
Ou Luisgat is uiteindelik
dood, Pa. Wel, dis wat jy Oom Fidel genoem het. Oom Fidel het ‘n indruk op jou
gemaak Pa, ten spyte daarvan dat jy hom nie kon verdra nie en ‘n hele paar
ander, minder aangename byname vir hom gehad het. Jy het net troetelname gehad
vir die mense wat jou beïndruk het, Pa. Ek onthou dit nog goed van jou.
Hierdie wêreld is besig om
leeg te loop Pa. Ek voel dit aan my gebeente. Die Man met die sens oes swaar in
die Ooms se deel van die bos Pa. Die Era van die Ooms en Tannies is besig om uit
te loop Pa.
Tannie Maggie is al ‘n
geruime tyd dood Pa. Haar opvolgers was maar effens Pa. Oom Leonid se opvolgers
het ook maar lekker bollie gebak en ons praat liewers nie oor die gespuis wat
na Oom Ronald gekom het nie. Ek mis vir Oom Valery Pa, hy het altyd so edel en
netjies gelyk. Hy het ook nie nonsies verdra nie.
Ter plaatse het jy FW
verag, Kortbroek nog meer. Ek onthou Oom John nog goed Pa, en so ook die Groot
Krokodil. Jy het respek vir hierdie Ooms gehad al het jy nie met hulle
saamgestem nie. Jy het altyd gesê mens weet waar jy met hulle staan. Ek onthou
dit ook Pa, hul ja’s was hul ja’s en hul nee’s was hul nee’s. Almal het regop
gesit en geluister as Oom PW daai vinger geswaai het, Pa, selfs jy.
En dit is wat ek mis Pa:
mens het geweet waar jy staan met die Ooms (en die formidabele Tannie of twee).
Hierdie nuwe lot . . . ? Hel Pa, ek weet nie so mooi nie. Ek lees nou die dag
op die CNN webblad hulle praat van die nuwe Amerikaanse politiek as die “Post Truth” era Pa. Die waarheid is nie
meer geldig nie en maak nie meer saak nie. Alles het ‘n prys en wat jy nie kan
koop nie, koop jy om of verkoop dit.
Dis miskien goed jy’s
vandag nie meer met ons nie Pa. Ons lot het hierdie ‘nuwe’ beginsels en waardes
al ‘n geruime tyd gelede uitbundig ter harte geneem en dit skaamteloos en
argeloos verfyn en uitgebrei tot tot ‘n wrang kunsstyl. Ek skaam myself om dit
te erken Pa, maar soms bewonder ek hul skynbaar moeitelose vermoë om wat eens
eerlik, opreg en waar was, te vervang met slik en sloert.
Feitlik oraloor sien ons
die opkoms van ‘n onverdraagsame, insiglose populisme. ‘n Skynbaar onstuitbare vox populi. Boonop temper ons lot hul
retoriek gereeld met God se Wil. Dit gaan nog tot onrus lei, Pa. Die Grote
Charlemagne, en sy trawante, het al in 798nC geweet *:
Nec audiendi qui solent dicere,
Vox populi, vox Dei, quum tumultuositas vulgi semper insaniae proxima sit. |
And those
people should not be listened to who keep saying the voice of the people is
the voice of God, since the riotousness of the crowd is always very close to
madness.
|
Ek wonder wie van ons span
weet nog wie Charlemagne was Pa?
Vandag kan ek nie meer die
woorde van Generaal Gothmog (uit The
Return Of The King) uit my gedagtes kry nie, Pa:
“The Age of Men is over. The Time of the Orc
has come.”
Ek wonder wie gaan die strydvaandel
vir ons opneem Pa?
* Vanuit ‘n brief van die
leermeester Alcuin van York aan Keiser Charlemagne.
© RS Young, 2016
Beeldbron:
http://www.myinterestingfacts.com/fidel-castro-facts/