Baie, baie lank gelede het nogal
heelwat middelklas, Afrikaans sprekende, getroude dames nie nodig gehad om te
werk nie. Rêrig! Gaan vra jou ouma, sy sal weet. Dit was ‘n eenvoudiger era met
eerliker norme en helderder waardes as wat mens vandag aantref.
Dit was ‘n gewilde gebruik onder die
dames om oggend geleenthede te skep waar hulle kon bymekaar kom en gesels oor
allerhande kontemporêre sake wat as gepas beskou was. Eggenotes – en selfs so
af en toe ‘n stukkie skinder – was slegs met vertrouelinge bespreek. Mens se
goeie naam was destyds goud werd!
Die gasvrou het natuurlik ook die kans gehad om bietjie ‘uit
te hang’ en haar vaardighede ten toon te stel. Tuisnywerhede was onbekend en min
mense het die nut ingesien om soet en sout gebak by die groot kruidenierswinkels
te koop. Soutterte, melkterte, ‘n verskeidenheid koeke en heelwat vinger of
snoep happies was gewild. Gaan kyk maar net in Tannie SJ de Villiers se Kook en
Geniet, ou Huisgenote en Sarie’s. Soutterte was ook gewild by die talle
noenmale wat gereeld saam met die formele funksies van Kerk, Skool, Party of
Werkgewers aangebied was.
En so het ek korslose souttert leer ken, aan’t huise van Ma
se Sunridge Park vriendin, Tannie Rooikop. Sy was nogal ‘n formidabele vrou met
haar uitgepofde, laat sewentigers haarstyl in skelrooi en haar luiddrugtige
uitgesprokendheid. Formidabele ou kat vir haar dag.
In hierdie era van McDonalds, Steers, Kentucky en hul
trawante, mag die jonger kinders dalk hul neuse optrek vir souttert. Bak gerus
mini tertjies in ‘n gewone, standaard grootte muffin pan om dit die voorkoms van “iets anders” te gee. Indien
daar enige tertjies oorbly, kan dit môre saamgaan in die kosblikke. As die
telge nog kosblikke gebruik …
Hierdie souttert hoef nie rond te wees nie. Enige vierkantige
of reghoekige oondbak van 1.25 Liter (of effens groter) inhoudsmaat is geskik.
Verder is die tert ook lekker as dit koud is. Netnie yskas koud nie.
Resep lewer:
|
Bak tyd:
|
Totale tyd:
|
8 Porsies ronde tert, of
± 9 muffin
grootte tertjies
|
± 40 minute
|
± 60 minute
|
1 x 24cm glas of porselein
tert pan (± 1.25 liter inhoudsmaat)
1 x 12 koppie muffin-pannetjie
Bestandele:
Die nat bestandele:
|
|
250g
|
Brunoise gekapte, rou uie
|
250g
|
Rugspek,
in 2cm x 2cm stukkies gesny
|
150g
|
Gerookte
viennas in 1 cm dik skyfies gesny
|
75g
|
Gerasperde
cheddar kaas
|
2.5mL
|
Gedroogde
knoffel vlokkies
|
Die vloeistof bestandele:
|
|
100mL +
200mL
|
Volroom melk
|
3
|
Ekstra
groot eiers
|
Die droë bestandele:
|
|
45g
|
Koekmeel
|
2.5mL
|
Braai speserye
|
2.5mL
|
Gemengde
kruie
|
2.5mL
|
Sout
|
1.25mL
|
Fyn
gemaalde swart peper
|
Metode:
·
Spuit die muffin-pan
of tertpan deeglik uit met ‘n kleefweerende sproei, veral oor die bodem.
·
Braai die spek oor medium-hoë hitte totdat dit mooi bruin en
bros word. Skep dit uit die pan en laat dit eenkant afkoel.
·
Gebruik die 100mL porsie melk en ‘n flat whisk om die spek aanbrandseltjies te lig vanaf die bodem van die
nog warm pan.
·
Voeg die spekkerige melk by die 200mL porsie, hou eenkant.
·
Meng die gaar spek saam met die res van die nat bestandele en
die gedroogde knoffelvlokkies. Roer deur tot deeglik gemeng.
·
Verdeel die uie, spek, worsie en kaas mengsel eweredig tussen
die muffin-pan se holtes of skep dit
in die tertbord en maak die vulsel gelyk bo-op.
·
Moenie die rou vulsel te veel saam pers nie, anders sal die
eier, melk en speserye mengsel later nie mooi penetreer nie.
·
Weeg en meet die droë bestandele uit in ‘n mengbak en meng
goed deur.
·
Klits die eiers en al
die melk deeglik saam en meng die droë bestandele daarby in. Meng deeglik en
maak seker daar is nie klonte teenwoordig nie.
·
Giet die melkmengsel eweredig oor die gevulde pan of muffin-pan tertjies. Klits die
melkmengsel gereeld terwyl dit oor die muffin-pan
tertjies uitgegiet word, anders sak die koekmeel uit.
·
Maak seker die oppervlak van die tert (of tertjies) is
redelik gelyk en dat daar nie enige bestandele hoog uitsteek bo-oor die vloeistof
oppervlak uit nie, anders mag dit brand in die oond se hitte gloed.
·
Bak die tert in ‘n voorverhitte oond vir 40 minute by 180ºC (of
35 minute by 160ºC vir ‘n konveksie oond).
·
Bak die muffin-pan
tertjies 30 – 35 minute by dieselfde temperature as die groot tert. 25 – 30
Minute vir ‘n konveksie oond. Die mini tertjies is gereed as dit bolangs begin
verbruin en duidelik uitpof in die oond.
·
Haal uit die oond en laat die tert afkoel tot matig warm.
·
Sny in wiggies en bedien.
·
Laat die muffin-pan
tertjies heeltemal afkoel tot kamer temperatuur en maak dit versigtig los met
‘n skerp, dunlem nutsmessie. Gebruik ‘n vurk om elke tertjie versigtig uit sy
koppie te lig.
Kommentaar:
Die koekmeel sink af deur
die melk vloeistof om ‘n oor die verloop van die gaarword proses ‘n dun, amper
kluitjierige korsie op die bodem van die pan te vorm. Dit help om die warm,
gaar vulsel bymekaar te hou soos die tert in wië gesny en uitgelig word opdien
borde toe.
Die gehalte van, en die
soort, worsie wat gebruik word kan nogal ‘n beduidende invloed hê op die smaak
van hierdie souttert. Kaas worsies (Cheese
grillers) of Bockwurst werk ook goed
in die plek van viennas. Wees versigtig vir pienk (of ‘rooi’) viennas, hulle
verleen ‘n effe avant garde skelpienk kleur element aan die
souttert. Die smaak raak ook effe skellerig.
Hierdie korslose souttert
gaan nogal goed af saam met ‘n koue, ligte wittetjie soos ‘n Chenin Blanc,
Blanc de Blanc of ‘n Pinot Grigio. Solank die bottel se beskrywing sê “crispy, light white” (of iets na dier voege) behoort jy in goeie geselskap te
wees. Selfs ‘n redelik droë Rosé sal ook goed werk. Vermy maar die Natural Sweets in wit, rooi of blos.
© RS Young 2015