( Oorspronklik gepubliseer op 24.11.2013. Word hier onveranderd herpubliseer. )
Die koel, droë vingerpunte raak aan my elmboog. Ek
draai om, weg van die vertoonvenster. “Oom, Oom? Hoor jy my?” Ek wonder hoe
lank staan die seun al daar en probeer ongemerk my aandag trek.
Uitdrukkingloos steek hy sy hand uit. Ek sien dit gaan
‘n koue, pap en dooie handdruk wees. Ek hou my hande in my broeksakke. Ek skud in
elk geval nie meer blad met uit-die-bloute vreemdelinge nie, ongeag hul
ouderdom.
Ek staan uitdrukkingloos vir hom en kyk. Ek wag vir
die shake down. Hy laat sak sy hand.
“Kan ek oom
iets vra?” Saggies, uitdrukkingloos, emosieloos.
Ek staan gevoelloos vir hom en kyk. Ek kan nie mooi hoor wat hy
sê nie en leun vorentoe, nader aan die dooie gesig. “Kan ek oom iets vra?” kom dit weer saggies.
Sy oë is glansloos en dood. Hulle kyk lank vir my ken.
“Het oom vir my tien rand?” Sag, gevoelloos, dood.
“Ek dra nie meer kontant by my nie.” Ek stel ‘n feit.
Eentonig, droog en emosieloos. Soos in ‘n klaskamer of ‘n hof . Maar dit is ‘n vooroorgeboë leun. Ons
altwee weet dit. Ons kyk uitdrukkingloos vir mekaar.
Ek kom weer regop. Die seun draai om en loop weg. Half
nuuskierig drentel ek agter hom aan. Hy loop vinnig, vleg deur die ander mense.
Hy stop by niemand anders nie. Ek verloor hom.
Vandat my Ma oorlede is, gee ek vir niemand meer nie.
© RS Young 2013