Haai Johan, ek het jou
eergister oggend amper nie herken met daai welige ding op jou kop nie. Dit het
my ‘n rukkie geneem om te besef dit is jy onder daai geil haarstuk. Ek het
nooit geweet die bles pla jou só erg nie! Johan, jy het nogal uitgelese gelyk
met jou bles, soos ‘n man wat weet wat hy wil hê.
Sjoe Johan,
weet Magda van die blinkoog meisie wat so aan jou arm gehang het? Wat sê sy van
hierdie affêre Boeta? Wat sê jou kinders Johan? Goeiste Johan, daai kalfie-oog
popsie kan nie veel ouer as Erika wees nie? Erika is mos nou finale jaar, nie
waar nie?
Ek het gesien
jy dra nie jou trouring nie, Johan. En daai plat, blink SLK? Waar is jou
netjiese 4x4 waarmee julle gesin so graag gaan kamp het? Het jy Magda en die
kinders ook reeds klaar ingeruil vir hierdie parmantige sport modelletjie?
Johan, ek wil nie voorspooksels opjaag nie, maar daai nuwe waentjie lyk bietjie
laag op die grond vir potbrood knie en in die veld gaan hurk Boeta.
Ou Johan, dit
is seker nie my plek om dit so prontuit vir jou te sê nie, maar daai ding op
jou kop lyk soos ‘n verskrikte vlakhaas wat agterstevoor onder ‘n ruie wag ‘n bietjie
bos uitgesleep is. Ek het my proes maar hard gesluk want die girl het reeds ongemaklik gelyk. Miskien
was julle maar net haastig oppad terug kantoor toe?
Goeiste Johan,
ek wonder hoe kry jy dit reg om by te hou by daai wolmuis? Te oordeel aan jou
vatterige hand en haar vriendelike boudjie hou jy sovêr nog goed by. Hel Johan,
sy kan rêrig nie ‘n dag ouer wees as Stefan se verloofde nie! Sjoe ...
Kan jy darem sonder
‘n blou pilletjie nog roer onder die lakens as daai girl bed toe getrippel kom in haar fynste kantkatoetertjie, Johan? Ek
hoop jou apteker gee jou grootmaat afslag op die blou pilletjies en die
Bioplus? Gelukkig is jy die Senior Vennoot, ek glo jou kredietkaart staan styf
in vir die papperigheid in jou manlikheid.
Slaap jy snags
Johan? Jou oë eergister het my laat wonder. Waaraan lê jy en dink in die stil
dieptes van die nag Johan? Hoop jy die wolmuis gaan help vir die spyt wat te
laat gaan kom? Voel jy ooit skuldig Johan? Wéét jy van alleen wees op jou
oudag?
Aarde Boeta,
waar is Magda? Julle was hoe lank saam – 34 jaar, nie waar nie? Ek het Magda
nog altyd net bewonder Johan, sy het my ‘n voorslag opgeval. En jou kinders
Johan? Ek wonder wat dink hulle deesdae van jou?
Eishh Johan,
hoe lank dink jy gaan daai popsie volhou met met die 20 minute wag tot daai
blou bulpil inskop? Ek kan nie help om te wonder of sy nog só geduldig gaan
wees na Magda se regspan met jou klaar gemaak het nie? Ek vermoed hulle gaan
nie blou pilletjies nodig hê nie. Dalk moet jy begin pleisters bymekaar maak Boeta?
Hêrre Johan,
is jy gelukkig? Is jy rêrig gelukkig?
Haai ou Johan
...
© RS Young, 2019