Monday 30 March 2020

Klewerige Gemmer & Lemmetjie Glanssous














Daar is dae waar die Heelal sy mes in het vir jou en alles – jouself ingesluit – gatkant eerste deur die wêreld neuk.

Dan kom jy huis toe, sweis jou sekuriteitshek toe, sluit jou voordeur, spoel die sleutels in die troon af, trek al die gordyne toe en haal jou selfoon se battery uit. Gaan sit ‘n halfuur of so in die stilte deurdrenkte donker en kom soortvan tot verhaal. Daarna slaat jy hierdie model aan mekaar vir jouself en jou ietwat bekommerde Beste en ervaar hoe jou siel weer naderkom aan jou ruggraat.

Die glanssous kom vinnig bymekaar en het geen uitdagings nie. Daar’s 3 groot geure wat baie mooi saamwerk en saggies speel met hoender vlerkies, vark lende tjoppies of selfs Kingklip fillette – as jou staander nou wel daai kant toe leun. Gemmer en lemmetjie net so op die rou wielvellings speel nie mooi met bees en lam nie. Inteendeel, beide moet eers bietjie ‘gebrei’ word voor jy hulle aan die skerpte van klewerige gemmer en lemmetjie voorstel.

Moenie hierdie manne probeer braai nie. Daar is te veel suiker in die glanssous en dit gaan maklik aanbrand. Gemmer hou in elk geval nie van rook nie.

Beste sal die innie-donker episode verstaan as sy eers hierdie vlerke op haar bord het. En as jy jouself gedra aan tafel, mooi luister na haar dag en die skottelgoed was, mag haar oë dalk weer ‘n slag sag word vir jou …

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.