Pa sou nie die simboliek agter die titel van E.L. James se
opspraakwekkende Fifty Shades of Grey
waardeer het nie. Pa was ‘n moeilike en reguit man, slim en boonop verbaal
vaardig. Sy ongeduldige wêreld was eng wit of swart en na moer met die res –
geen uitsonderings of verskonings nie. Sy woord was sy trots: sy ja sy ja en sy
nee sy nee. Voorspelbaar, had hy nie juis vriende oor die verloop van sy te
kort lewe nie.
Gevolglik het sy aard hom nie juis toegelaat om dom mense – ongeag
status, herkoms, geslag of kleur – te verdra nie. Pa was nie skaam om sy mening
te lug oor aangeleenthede wat direk op hom betrekking had of waarin hy belang
gestel het nie. Dat hy meermale korrek bewys was in sy redenasies en argumente,
het ook nie juis veel vir sy gewildheid gedoen nie. Tog het hy oor die jare
heelwat bedaar, maar sy aweregse sin vir humor het soms die oorhand gekry in
situasies waar sy gewone brutale eerlikheid of – sosiaal meer aanvaarbaar – ‘n
poging tot takt beter sou gewerk het.
Pa was ‘n stoere Afrikaner, ‘n patriot en ‘n meelewende Kerkman met ‘n diepgaande
empatie vir sy mede Afrikaners in verdrukking – dikwels tot sy eie en, soms, sy
gesin se nadeel. Sy destydse besigheidjies se personeel was feitlik almal
blank. Werwing het gewoonlik via die Christelik
Maatskaplike Raad, Volkshulp 2000 en ‘n gelykdenkende bostelefoon geskied. Op
sy manier – soos sy eie wisselvallige finansiële omstandighede dit toegelaat
het – het hy oor dekades heen ‘n klein stukkie bygedra om sy Volk op te hef en
te handhaaf. Primêr deur sy persoonlike voorbeeld en patriargale raad (gevraag
of ongevraag), maar soms ook met materiële hulp soos en waar sy rieme hom dit
vergun het. By die ophef van sy Volk in terme van hul daagse brood, was sy
beleid eenvoudig: moenie ‘n man aanhoudend vis en chips gee nie, maar leer hom om sy eie visstok te prakseer en laat die
donner dan visvang – al was dit soms onder dwang.
Besigheid gewys was Pa onvermydelik uitgelewer aan die grondboontjies-werf-apies
probleem. Pa het nie geaarsel om die dagloner te betaal wat hom of haar toekom
nie, maar as die kasregister nie juis breed is nie, kan jy nie eintlik MBA’s
verwag nie. Pa het hierdie toedrag sonder teenstand aanvaar, maar die onvermoë
om mikrobestuur te ontsnap het hom gereeld frustreer. Ironies genoeg was Pa ‘n
mikro bestuurder par excellence.
Wrewel of wraaksug was nie deel van Pa se lewe nie, maar gegewe sy
agtergrond en aard, was dit te verstane dat persone van kleur nie aangemoedig
was om aansoek te doen vir werk nie. Waar hy ‘n geleentheid kon bied, het sy
mense eerste gekom. Gewoonlik het sy liggaamstaal dit al by die voordeur duidelik
gemaak dat jy, as nie-blanke werksoeker, nie suksesvol gaan wees nie. Tog sou
‘n aansoeker hier en daar die moed bymekaar skraap (miskien aangevuur deur ‘n nukkerige
honger of die kommer oor hongeriges tuis) om onder daardie kwaai blik tot by
die toonbank te vorder en bedees navraag te doen na die moontlikheid van ‘n
werkie. Meestal sou Pa die soekende kortweg inlig dat daar nie vandag
geleenthede beskikbaar is nie.
Ongereeld, as hy in ‘n goeie bui was, of die werksoeker halstarrig was
om ‘n “Nee.” te aanvaar, sou hy die klavier kaart trek met die sonder
uitsondering onverwagse:
“Kan jy klavier speel? Ek het ‘n klavierspeler nodig.”
Die minderheid wat rêrig verstaan het wat die oom vir hulle sê, sou dan
onderlangs in die sowat agt vierkante meter, publieke deel rondloer vir ‘n
klavier en moed opgee. Die meerderheid was egter desperaat en sou instem tot feitlik
enige vreemde versoek, net om ‘n voet in die deur te kry.
Pa sou dan groet met:
“Nou maar gaaf, jy kan more
begin.”
”Bring net jou eie klavier.”
Vandag, in hierdie era van BEE en Radikale Ekonomiese Transformasie, sou
die skuimend-om-die-mond brigade Pa beslis as ‘n rassis gebrandmerk het, en
erger. Destyds was hy ‘n patriot in die oë van sy eweknieë en gesindheidsgenote
– groot Kerk en Volk manne. Snaaks hoe die kategorieë verander het na gelang
van wie die tamboer slaan.
© RS Young, 2017