Monday, 30 March 2020
Klewerige Gemmer & Lemmetjie Glanssous
Daar is dae waar die Heelal sy mes in het vir jou en alles – jouself ingesluit – gatkant eerste deur die wêreld neuk.
Dan kom jy huis toe, sweis jou sekuriteitshek toe, sluit jou voordeur, spoel die sleutels in die troon af, trek al die gordyne toe en haal jou selfoon se battery uit. Gaan sit ‘n halfuur of so in die stilte deurdrenkte donker en kom soortvan tot verhaal. Daarna slaat jy hierdie model aan mekaar vir jouself en jou ietwat bekommerde Beste en ervaar hoe jou siel weer naderkom aan jou ruggraat.
Die glanssous kom vinnig bymekaar en het geen uitdagings nie. Daar’s 3 groot geure wat baie mooi saamwerk en saggies speel met hoender vlerkies, vark lende tjoppies of selfs Kingklip fillette – as jou staander nou wel daai kant toe leun. Gemmer en lemmetjie net so op die rou wielvellings speel nie mooi met bees en lam nie. Inteendeel, beide moet eers bietjie ‘gebrei’ word voor jy hulle aan die skerpte van klewerige gemmer en lemmetjie voorstel.
Moenie hierdie manne probeer braai nie. Daar is te veel suiker in die glanssous en dit gaan maklik aanbrand. Gemmer hou in elk geval nie van rook nie.
Beste sal die innie-donker episode verstaan as sy eers hierdie vlerke op haar bord het. En as jy jouself gedra aan tafel, mooi luister na haar dag en die skottelgoed was, mag haar oë dalk weer ‘n slag sag word vir jou …
Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.
Saturday, 21 March 2020
Lourierblaar Poeier
Albei
my Oumas sou hul hande saamgeslaan het oor die kombuis streke van die ‘moderne’
jeug. Maar Ouma hulle se kombuise en kook aanslag was miskien nie heeltemal so
gesofistikeerd soos ons s’n vandag nie. Ouma en Kie was nie daagliks oorweldig
met buite invloede, idees en inspirasies wat kort-kort vandag ‘n oplettende kok
se harspan laat lyk soos ‘n kersboom met die liggies direk op die 3-fase
kragtoevoer gekoppel nie.
Lourierblaar
poeier is een van daai streke wat jy nooit geweet het jy nodig het tot jy
jouself eendag katswink teen die ding vasloop nie. Maal gerus jou eie
‘n-bietjie-van-alles en kyk hoe jou kombuis weer opwinded word. Onthou om
volledige notas te neem van alle toetse en pogings.
Waarsku
jou huisgenote oor die komende onstabiliteit in die eksperimentele aard van jou
tafel en spyskaart. Verseker hulle “Alles sal regkom!” Moenie ophou bemoedigend
glimlag nie, lyk selfversekerd en moet veral onder geen omstandighede ‘n
tydsduur koppel aan die komende onstabiliteit nie.
Die
skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours.
Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans
en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat
Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal
verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.
Thursday, 12 March 2020
2 Kaas Kerrie Omelet
RESEP : 2 Kaas Kerrie Omelet
Die
manlike hart is mos maar 'n snaakse en agterstevoorom ding. As jy nog boonop
soos myself in jou voorjare jou trappe misgetrap en jou vatte misgevat het, kan
die hart soms op geen kennisgewing begin hunker en hyg na daai Enetjie wat jy
destyds deur jou vingers laat glip het.
En
dan is alles in jou binnelewe onderstebo, en as jy jou oë uitvee, is jou
buitelewe ook agterstevoor en halsstarrig omgekrap. Kort voor lank sit jy
platsak in die Dal van Moedverloor, en daai ene is nooit 'n aanwins nie.
Dis
dan hier waar mens jouself bymekaarskraap voor jy die laagte oppad Dal toe
aandurf en jouself bietjie vertroetel met 2 Kaas Kerrie omelet. Die
voorbereiding is eenvoudig en die eet nog makliker, maar die wins vir die siel
is groot want die hande slaan hierdie ding op hul eie aanmekaar. Die kop hoef
nie toesig te hou nie en kan die vêr agterpaaie loop terwyl die hande rasper,
klop, smeer en bak en agterna opwas.
Terwyl
die kop draaie loop, kan die hart bedaar. En as die lewe jou ook al 'n paar
keer hard laat val het, is die koesterende eenvoud van kaas, eier en goed gebotterde
roosterbrood op jou bord en in jou hart soms net die ding om 'n slag weer
perspektief en die paadjie vorentoe te vind.
So
terloops: die pragtige en eg Afrikaanse word vir omelet is eierstruif.
Mooi, nè?
Die
skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours.
Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans
en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat
Engels die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en
bedank u by voorbaat vir u begrip.
Subscribe to:
Posts (Atom)