Thursday 12 March 2020

2 Kaas Kerrie Omelet






RESEP : 2 Kaas Kerrie Omelet








Die manlike hart is mos maar 'n snaakse en agterstevoorom ding. As jy nog boonop soos myself in jou voorjare jou trappe misgetrap en jou vatte misgevat het, kan die hart soms op geen kennisgewing begin hunker en hyg na daai Enetjie wat jy destyds deur jou vingers laat glip het.

En dan is alles in jou binnelewe onderstebo, en as jy jou oë uitvee, is jou buitelewe ook agterstevoor en halsstarrig omgekrap. Kort voor lank sit jy platsak in die Dal van Moedverloor, en daai ene is nooit 'n aanwins nie.

Dis dan hier waar mens jouself bymekaarskraap voor jy die laagte oppad Dal toe aandurf en jouself bietjie vertroetel met 2 Kaas Kerrie omelet. Die voorbereiding is eenvoudig en die eet nog makliker, maar die wins vir die siel is groot want die hande slaan hierdie ding op hul eie aanmekaar. Die kop hoef nie toesig te hou nie en kan die vêr agterpaaie loop terwyl die hande rasper, klop, smeer en bak en agterna opwas.

Terwyl die kop draaie loop, kan die hart bedaar. En as die lewe jou ook al 'n paar keer hard laat val het, is die koesterende eenvoud van kaas, eier en goed gebotterde roosterbrood op jou bord en in jou hart soms net die ding om 'n slag weer perspektief en die paadjie vorentoe te vind.

So terloops: die pragtige en eg Afrikaanse word vir omelet is eierstruif. Mooi, nè?


Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.