Thursday 21 January 2021

Gebakte Mokka Sago Poedding

RESEP : Gebakte Mokka Sago Poedding (met Gestoofde Pere & Pruimedante)

Oorlidde Ouma Kowie sal seker grootoog haar hande saamgeslaan het in ongeloof met hierdie op die Sondagmiddag etenstafel. Heimlik, weet ek egter, sou sy beïndruk gewees het. Selfs ek is beïndruk hiermee!

Sago poedding het ‘n reputasie om vervelig te wees en soms rubberig – as jou gasvrou effe haastig was en haar eendjies die hele pad vol getrippel het i.p.v. mooi reguit ‘n ry gemaak het. Albei: vervelig en rubberig, is natuurlik onnodig as ons bietjie vroëer opgestaan het en ons gansies mooi bymekaar gehou het.

Oorle Ouma, ‘n uitstekende kok, het hierdie Padda Eier Poedding genoem en hoog en laag gesweer dis rêrig, rêrig padda eiertjies. Natuurlik ‘n slenter om puntenerige kleinkinders sovêr te kry om dit te eet, want met eerste oog op slag inspireer ‘n bakkie met gewone ou sago nou nie juis die beste entoesiasme in genoemde kinders nie. Ek ken grootmense wat ook hul neuse optrek vir sago poeding. Foeitog.

Ewenwel, ons kinders het Ouma se sago verslind met die morbiede entoesiasme van prille jeug. Eers later het die pennie ge-‘drop’: die grootmense het ons alweer belieg, al was dit ‘n lekker leun. Heelwat later het ek besef nogal verskeie van die ou-mense se fundamentele ‘waarhede’ was ook maar niks meer as dagdrome nie. Hierdie werklikheid (of lewe, as jy dit so wil hê) is meer as gereeld onaangenaam en ongenaakbaar in sy aanslag. Miskien was die ou-mense se fundamentele ‘waarhede’ ‘n manier om die naarheid ‘n suikerlagie te smeer in die ydele hoop dat eendag, eendag alles sal regkom. Miskien sou ons, die volgende geslag, beter en meer doeltrefende volwassenes uitgedraai het as die ou-mense van die begin af brutaal eerlik met ons was oor wat voorlê met grootword. Maar nee, toe draai dinge nie so uit nie.

Hier verstel ons so effe aan gewone ou sago poedding met ‘n nuwe koffie / mokka geur ondersteun met ‘n titseltjie van karamel en haselneut. En skielik het die ou Tier weer woema om die lyf en nuwe glans in haar diskobal – reg om die nag weer op horings te neem. Ons vervang ook die vervelige, tradisionele boksie-vla met gestoofde droë pere en pruimedante. Beide gaan verbasend goed af saam met die primêre koffie geur van die sago.  

En vrinne, familie en mede landgenote? Gaan stadig om met daai gestoofde pruimedante, parmantig soos wat hulle is. Daai pêrre het ‘n geslepe plan: té veel en hulle gaan jou laat spaander vir die naaste plônsput, ruggie holgetrek van haas met jou hakke wat tamboer tussen jou blaaie soos jy laat waai …

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

follow 5Flavours

Sunday 10 January 2021

Mello-Yellow Hawermout Ontbytpap

RESEP : Mello-Yellow Hawermout Ontbytpap

Daar is mos dae waar jy opstaan en besef vandag gaan weer een van daai dae wees waar alles gaan verkeerd loop en die heelal sy uiterste beste gaan doen om sy sambreel op jou persoon in ‘n donker plek te bêre en jou te kén in die ou, bybelse manier. Jy’t nie nodig om met die helm gebore te gewees het om te weet nie, jy wéét sommer al klaar nog voor jy jou tande geborsel het.

Nou ja, dan slaat jy maar wit sjokolade, malva lekker en hawermout ontbytpap aan mekaar. ‘n Stewige kom met hierdie romerige, gladde ontbytpap gaan jou die geleentheid gee om jou lendene figuurlik te omgord op die emosionele en geestelike vlak. En as ou Donovan jou draaitafel besoek en sy diep verwagtinge vir gedroogde piesangskille uitkraai, is dit miskien gepas vir die dag se verrigtinge wat voorlê.

Nou neem kennis: as jy twee vingers verloor en heelwat derdegraadse brandwonde opdoen tydens die voorbereiding van hierdie gereg is dit miskien ‘n wesenlike aanduiding dat die heelal vandag ernstig is met jou en jy maar die dag moet kanselleer en onder jou bed gaan skuiling soek, ‘bersie oor jou kop.

Sterkte!

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Wednesday 30 December 2020

Appelkoos Hoender Dye, Oondgebak

RESEP : Appelkoos Hoender Dye, Oondgebak

So reg in die styl van die 70’ers en 80’ers toe hierdie gereg nogal gewild was. Hedendaags, kry ek die gevoel, het dit effe uit guns geraak, wat jammer is. In my opinie is dit ‘n klassieke gereg wat baie gewild was in vervloë se dae en verdien om nou en dan weer afgestof te word soos hier.

Moeder was nogal lief hiervoor ten spyte van Pa se duidelike tekort aan entoesiasme. Ek vermoed appelkoos hoender was een van Ma se klein rebellietjies as Pa weer die week ekstra moeilik en op sy nukke was. Hoe dit ookal sy, ek was mal hieroor. Ma het dit gewoonlik vir ‘n Sondag middagete voorberei, altyd saam met haar sagte, pluiserige wit rys. Veral na ‘n lang week, want die hoender stukke was ge-blatjang, ge-vrugtesap en vertroetel met ander dingetjies wat ek nie kan onthou nie, tot my spyt. Die hele kaboel was dan oond toe en het Ma kans gegee om bietjie rustiger te wees, vier telge ten spyt.

Sien, Kiep het destyds gelewe om te eet. Hoe groter die volume beskikbaar ter tafel, hoe groter die persoonlike opraap-en-opvreet entoesiasme. Vandag gril ek vir myself as ek terug dink aan daardie dae. Maar nou ja, ons leef en ons leer (al is die ‘leer’ net soms).

Ma was ‘n uithaler kok van wit rys en ek vermoed sy was erg trots daarop. Vandag sukkel ek om halfpad naby aan haar sagte en pluiserige rys, altyd spierwit en maagdelik, te kom. Haar rys het ‘n half onbehoorlike entoesiasme vir sous gehad. Sodoende dat selfs ek, in my jeugdige oordaad, dit opgemerk het. Ek kon my verkyk aan hoe ‘n skeplepel vleissous wegsak in haar losserige rys, traag en onstuitbaar. Hoe elke ryskorrel glinsterend omvou word in sous en dit buite-om deel word van elke ryskorrel, amper soos ‘n sagte, glipperige skil. Maar jy moes ook nie oordadig staan en raak nie, anders had jy ‘n see van sous met ryskorrels hier en daar. Dan was jou huisgenote nukkerig want jy het al die sous verswelg en Pa is ontstig omdat jy ‘n lepel gaan haal het om als in te skoffel. En beskaafde mense eet nie met ‘n lepel nie.

Ma se appelkoos hoender het nooit juis geproe na appelkoos nie, maar altyd na ‘n vervloeisel van net-net onidentifiseerbare, gebakte subtropiese vrugte.En daai gemoedelik knibbelende ondertoon van bruin asyn wat in ‘n oond was. Jy weet mos? “Oond asyn” het sy aggresiewe, dreigende houding verruil vir die getemperde besadiging van ryp middeljare. En saam met die geur van stadig gebakte hoender het dit verweef in ‘n hemelse kombinasie (die mooi Franse word is mélange) wat jou gees onderskraag en ‘n alles vergewende moeder liefde bevestig het.

Ek (in my eie nukkerigheid) verkies my geregte om duidelik en trou aan hul hoof bestandele te proe en smaak. Die resep hier beklemtoon die suiwer appelkoos smaak, onderskraag met die sagte, soutige fondasie van stadig oondgebakte hoender. Geen ander fieterjasies of subversiewe elemente wat die mond net pootjie en ontsenu nie.

Bedien dit saam met jou beste, voetjie-voorsit wit rys, flosserige cous-cous of selfs Basmati rys. Ewe parmantig gaan die aanwending van ‘n koue Viognier of ysige Gewürtztraminer hier ook wees. 

En dek ‘n lepel saam met jou vurk vir daai laaste mondvol kokketterige rys en sous wat net aanhoudendmet die vurk wil flankeer en terg? Ons is almal grootmense hier.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

follow 5Flavours

Monday 28 December 2020

Geurige Karringmelk Wafels vir Soutige Vulsels

RESEP : Geurige Karringmelk Wafels vir Soutige Vulsels

Want soms, net soms, raak brood te veel. ‘n Ketterige bekentenis, ek weet! Veral vir ‘n uitgerysde brood soos ekke. Sug …

Hierdie karringmelk wafels is nie so sag en bros soos vars, Belgiese styl wafels nie. Ook nie soet nie. Hierdie kêrels bied boonop ook ‘n effe weerstand teen die tanne. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie! Hulle is nie taai nie, net voldoende kou-erig sodat hulle my tipiese skopgraaf tegniek kan weerstaan waar te veel van gister se Bief Stoganoff, kerrie maalvleis of hoender mayonnaise opgelaai word. Wat kan ek sê: ek is ‘n bok vir volume maat. Sug  …

In iedere geval, hierdie wafels werk goed vir ‘n ligte middagete as jy reeds in die proses en oploop is na ‘n gawe gekookte aandete. Jy wil jouself nie dik eet nie, anders raak jy lui en agter, maar jou binneste het nodig om versterk en bemoedig te word. En jy wil darem die maag, mond en tanne opbeur: daar is hoop vir later.

Overgesetsynde werk dit net so goed vir ‘n ligte en luierige Saterdag oggend brekkie. So net voor die dag wegspring en jy nog in jou ‘bietjie-langer-lê’ modaal is. Probeer hierdie wafels met ‘n romerige roereier en peper salami. En gebruik geduld met daai roereier? Vertroetel en pamperlang hulle met aanhoudende aandag. Verduidelik aan hulle, wyl jy hulle sagkens omroer en omroer, dat jy leef in hoop. Wie weet, dalk trek die dag opwindend weg na jy mammie met hierdie brekkie in die bed verras het. Die hoop en inisiatief beskaam mos nie.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

follow 5Flavours

Thursday 24 December 2020

Hoender Mayonnaise met Houding

RESEP: Hoender Mayonnaise met Houding

Hoenners! Hoenners tree aan! Geen hoenner hoef agter te bly nie!

Sien jy die drie uitroeptekens? Neem kennis: hierdie is ‘n ernstige en gewigtige saak.

Miskien is my verbeelding op hol, maar ek kry so by so die gevoel onse geduldige hoender mayonnaise vulsel het ongesiens in ‘n verslonsde en stowwerige Aspoestertjie verander terwyl almal met ander dinge besig was. En dit ontstig my nogal. Selfs die ongekunstelde battery hoender wat nog nooit toornige donderwolke op die kim, die vlam-oranje-rooi van ‘n laatsomer sonsondergang of selfs net ‘n knorrige oogpister gesien het nie, verdien darem ‘n skeutjie respek. Onthou bietjie, die breinlose ding moes dood sodat ek en jy gevoed kan word, dat ons lewens mag aangaan en – hopelik – gedy. Vir seker het daai Kiep onwillig gesterf ongeag hoe benoud en eng sy wêreldjie ookal was.

Om nou daai doodgekookte borsie uitmekaar te flans en sommer die eerste en beste kiewe-oppe-knop mayonnaise haastig by te werk sodat ons geliefdes darem iets beter kan werk of skool toe neem as heel laasweek se afskeep Marmite & kaas toebies (waaroor ons so skuldig voel), is darem ‘n effe onregverdig teenoor Kiep. Dink jy nie ook so nie? Dit is altemit net geduldige ou Kiep, maar nog steeds, Kiep verloor baie meer as ek en jy in hierdie toebie bedeling.

So, ons reseppie hier vertroetel en pamperlang ou Kiep om sy beste te gee, net soos ons ook graag ons beste vir ons geliefdes en naaste naastes wil gee, self al was hulle netnou ‘n ietwat kortaf met ons. Jy stowe (‘simmer’ in Ingels) jou been-in borsies geduldig saam met seldery, wortel, ui, knoffel en ‘n lourierblaar of drie. Dan laat jy die net-net gaar hoender afkoel in sy eie aftreksel, verkieslik oornag in die yskas, en more oggend bewerk jy daai koue hoender en doen soos in ons reseppie aangedui word. Verkieslik moet die hoender mayo ‘n dag staan in die yskas om bekwaam te raak. En dan is die omtrek van jou eie verbeelding die enigste grens vir wat jy alles met daai verhewe hoeder mayonnaise kan doen.

En as jy mooi kyk, mag jy hopelik ‘n nuwe vlak van respek in jou geliefdes se oë sien en ‘n verhewe geduld en deernis teenoor jou voel aanspoel.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Monday 30 November 2020

Kruiepoeiers, of Overgesetsynde : Maghêftertjies

RESEP : Kruiepoeiers

Soms kom daar ‘n tyd in ‘n man se lewe waar jy die bul by die horings moet pak en groot gaan. Jy moet aan jouself kan bewys jy’s meer as net ‘n oulike gevreetjie en ‘n paar stywe boudjies. Ten spyte van populêre en populistiese opinies het jy tog ‘n binneste. Jy steek dit net goed weg.

Maar jy wil darem ook nou nie té groot gaan nie. Netnou ontwrig jy jou naaste naastes se geloof in jou so erg dat hulle begin wonder of jy op die drumpel is om daai gewraakte “midlife crises” ding op te saal. Dalk kom jy oormôre tuis met ‘n parmantig-stywe blondine en ‘n blink nuwe BMW Z4? Niemand van ons het tog sulke soort van onverdeelde aandag in jou lewe nodig nie.

Kruiepoeiers is ‘n onopgesmukte manier om jouself sonder ophef aan jouself te bewys. En, terwyl jy besig is daarmee, om dalk ook so ‘n klein bietjie te dink oor jouself, die wêreld rondom jou, die mense daarin en jou plek in hierdie wêreld rondom jou. ‘n Introspeksie in die kleine, as’t ware. Miskien is dit ‘n geleentheid om jou selfperspektief weer bietjie af te stof en die ding ‘n slag goed te bekyk. Wie weet, dalk merk jy ‘n dowwe kol op wat kan doen met ‘n terpentyn lappie se aandag?

Kruiepoeiers is een van daai maghêgftertjies (om oorle Oom Pieter Pieterse aan te haal)  wat jou laat wonder waarom het jy nog nooit vantevore hieraan gedink nie? Dit hoort mos ongetwyfeld in jou spreekwoordelike kombuis gereedskapkissie saam met al daai ander katoetertjies en “moves” wat jy gebruik om aan jouself en die heelal te bewys jy is waardig om jouself in die kombuis in te begewe (en in die lewens van jou naaste naastes). Jy het tóg respek vir jouself, jou naastes en die bestandele op die snybord hier voor jou. Jy gaan die beste wat jy kan uithaal uit jou bestandele en jouself, sonder vertoon, truuks of oë verblindery. Jy IS waardig.

Die voorberei van kruiepoeiers is nie ‘n uitdaging nie. Gaan leen ‘n elektriese koffiemeuletjie by iemand as jy moet en maak jou eie maghêftertjies. By die eerste gebruik van jou eie gaan jy weer wonder waarom jy nog nooit vantevore hieraan gedink het nie. En as jy bietjie verder tob hieroor (en jouself) gaan jy begryp die geleenthede is legio waar om orals kruiepoeiers te gebruik. En, as jy boonop volhard in die dowwe kolle uitpoets, mag jou naaste naaste se waardering vir jou dalk groei en gedy. En wie weet, dalk vind twee ou bekende harte nuwe vreugde en vrede wat ophef en verenig in ‘n suiwerste heiligheid.

Net so ‘n laaste aanmaningtjie:  onthou om die koffiemeuletjie terug te gaan gee.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Wednesday 13 May 2020

Die Ingekerkerde Vark

RESEP : Die Ingekerkerde Vark

Of: Geurig Aromatiese Knoffel en Kruie Invryf Bedryf

Hierdie is ‘n vinnige invryf reseppie met ietwat ongewone bestandele wat mens nou nie eintlik met jou gunsteling varktjoppie vereenselwig nie. Maar die varkie sal diep dankbaar wees as jy hom uitvoer, want roosmaryn; vinkel; jenewer; lemoen; knoffel en lourierblaar doen algaar saam dinge aan ‘n wielneus wat selfs die mees preutse engel bewerig en ongeduldig gaan maak om aan jou tafel te kom sit.

En synde ons nou hierdie Covid-19 grendel periode teen wil en dank maar moet verdra en verduur, beteken dit nie dat jy jouself en jou huisgenote nie hier en daar mag pamperlang nie. Om angstig en hande wringend te wag vir hierdie ondermaanse om die Covid-19 beker met sy bitter-als en asyn verby te laat gaan is tog totaal onnodig. Lekker eet en goeie samesyn was nog altyd erg genoeë met mekaar se geselskap. En as dié twee goed met mekaar klaar kom, is daar vrede in jou en jou beste se harte en kan jul harte weer nader aan mekaar kom en in mekaar opgaan.

Nou die slegte nuus:
Eerstens, die vroetelsnoet wat jy met hierdie invryf reseppie vertroetel het, wil nie gebraai word nie. Jammer manne, maar vinkel, jenewer en lemoen verdra nie rook nie. Jy gaan hierdie tjoppies geduldig pan braai of in die oond bak.
Tweedens, jenewer bessies lê boonop ook nou nie sommer vir kleingeld en naasteliefde in enige vaardige kok se gatsak rond nie. As jy hom nie kan opspoor by jou plaaslike fênsie winkel nie, kan jy ‘n droë jenewer soos Beefeater so halfpad deur die braai proses by die pan voeg. Ek sou sê so ‘n kwart koppie vir twee parmantige tjoppies.

En om Vadersnaam, moenie daai borrelende jenewer in ‘n oomblik van passie probeer flambé nie!!! Gin neem nie gevangenes, gyselaars of sissies nie. Die hitsige vlamkolom wat wraakgierig uit daai pan gaan opstaan gaan met wreedaardige oorgawe jou wenkbroue en ‘n gawe stuk baard en snor wegvat as jy daai stemmige vuurhoutjie voorstel aan die sissende pan. Jou selfrespek en waardigheid (én rooi onderbroek) gaan nooit ooit weer agterna dieselfde wees nie, veral nie as Ma so onderlangs vir jou gegiggel het na jy flink en verskrik ‘n besige riel voor die stoof gedans het om daai gulsige vlam dood te kry voor jou damp uittrekker se filters smelt en saam begin braai nie. Beskou jouself as gewaarsku want ek was al daar …

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Sunday 26 April 2020

Lemmetjieskil Poeier

RESEP: Lemmetjieskil Poeier

Vars lemmetjies en lemmetjiesap neem nie gyselaars of kompromieë nie. Dis skiet-skop-en-donner al die pad in die beste SANDF styl tydens die COVID-19 grendel periode. Maar gedroogde lemmetjieskilpoeier … Nou daar is ‘n kietsie van ‘n heel ander kaliber en oortuiging.

Gedroogde lemmetjieskilpoeier, net soos kerslig, het die vermoë om knus te kom lê om die hande wat dit ken, respekteer en liefhet. Sprinkel so bietjie (saam met ‘n skeutjie gedroogde marjolein) oor die gesnyde tamaties van jou volgende kaas, tamatie en uie toebie en ervaar hoe dit daai doodse, vlaktes-duskant-Hebron verveligheid wegbrand en jou weer opnuut waardering gee vir hierdie saamie se effe holrug geryde eenvoud en eerlikheid. En gebruik papierdun gesnyde rooi uie terwyl jy nou reeds die moeite doen? Algaar sal groot waardering en dank betoon. En die wat nie verstaan wat jy vir hulle doen nie, verban jy vir alle ewigheid vanaf jou drumpel uit die buitenste duisternis in.

Strooi ‘n milde skoot oor jou volgende bak oondgeroosterde botterskorsies net soos dit uit die oond kom. Teug met glinsterende oë die helde vereering aan tafel in soos soet vonkelwyn.

Wat lemmetjieskilpoeier aan avokadopuree op liggies geroosterde snye bruinbrood doen kan nie hier op ‘n openbare forum bespreek word nie. Die tannies sal pragtig bloos en die bejaarde ooms sal met erge heimwee die bottel sjerrie driftig nader sleep. Meng ‘n effense knikkie balsamieke asyn by en die Publikasie Raad gryp sweterig en hygend na hul skêre.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Monday 30 March 2020

Klewerige Gemmer & Lemmetjie Glanssous

Daar is dae waar die Heelal sy mes in het vir jou en alles – jouself ingesluit – gatkant eerste deur die wêreld neuk.

Dan kom jy huis toe, sweis jou sekuriteitshek toe, sluit jou voordeur, spoel die sleutels in die troon af, trek al die gordyne toe en haal jou selfoon se battery uit. Gaan sit ‘n halfuur of so in die stilte deurdrenkte donker en kom soortvan tot verhaal. Daarna slaat jy hierdie model aan mekaar vir jouself en jou ietwat bekommerde Beste en ervaar hoe jou siel weer naderkom aan jou ruggraat.

Die glanssous kom vinnig bymekaar en het geen uitdagings nie. Daar’s 3 groot geure wat baie mooi saamwerk en saggies speel met hoender vlerkies, vark lende tjoppies of selfs Kingklip fillette – as jou staander nou wel daai kant toe leun. Gemmer en lemmetjie net so op die rou wielvellings speel nie mooi met bees en lam nie. Inteendeel, beide moet eers bietjie ‘gebrei’ word voor jy hulle aan die skerpte van klewerige gemmer en lemmetjie voorstel.

Moenie hierdie manne probeer braai nie. Daar is te veel suiker in die glanssous en dit gaan maklik aanbrand. Gemmer hou in elk geval nie van rook nie.

Beste sal die innie-donker episode verstaan as sy eers hierdie vlerke op haar bord het. En as jy jouself gedra aan tafel, mooi luister na haar dag en die skottelgoed was, mag haar oë dalk weer ‘n slag sag word vir jou …

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Saturday 21 March 2020

Lourierblaar Poeier

Albei my Oumas sou hul hande saamgeslaan het oor die kombuis streke van die ‘moderne’ jeug. Maar Ouma hulle se kombuise en kook aanslag was miskien nie heeltemal so gesofistikeerd soos ons s’n vandag nie. Ouma en Kie was nie daagliks oorweldig met buite invloede, idees en inspirasies wat kort-kort vandag ‘n oplettende kok se harspan laat lyk soos ‘n kersboom met die liggies direk op die 3-fase kragtoevoer gekoppel nie.

Lourierblaar poeier is een van daai streke wat jy nooit geweet het jy nodig het tot jy jouself eendag katswink teen die ding vasloop nie. Maal gerus jou eie ‘n-bietjie-van-alles en kyk hoe jou kombuis weer opwinded word. Onthou om volledige notas te neem van alle toetse en pogings.

Waarsku jou huisgenote oor die komende onstabiliteit in die eksperimentele aard van jou tafel en spyskaart. Verseker hulle “Alles sal regkom!” Moenie ophou bemoedigend glimlag nie, lyk selfversekerd en moet veral onder geen omstandighede ‘n tydsduur koppel aan die komende onstabiliteit nie.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Thursday 12 March 2020

2 Kaas Kerrie Omelet

RESEP : 2 Kaas Kerrie Omelet

Die manlike hart is mos maar 'n snaakse en agterstevoorom ding. As jy nog boonop soos myself in jou voorjare jou trappe misgetrap en jou vatte misgevat het, kan die hart soms op geen kennisgewing begin hunker en hyg na daai Enetjie wat jy destyds deur jou vingers laat glip het.

En dan is alles in jou binnelewe onderstebo, en as jy jou oë uitvee, is jou buitelewe ook agterstevoor en halsstarrig omgekrap. Kort voor lank sit jy platsak in die Dal van Moedverloor, en daai ene is nooit 'n aanwins nie.

Dis dan hier waar mens jouself bymekaarskraap voor jy die laagte oppad Dal toe aandurf en jouself bietjie vertroetel met 2 Kaas Kerrie omelet. Die voorbereiding is eenvoudig en die eet nog makliker, maar die wins vir die siel is groot want die hande slaan hierdie ding op hul eie aanmekaar. Die kop hoef nie toesig te hou nie en kan die vêr agterpaaie loop terwyl die hande rasper, klop, smeer en bak en agterna opwas.

Terwyl die kop draaie loop, kan die hart bedaar. En as die lewe jou ook al 'n paar keer hard laat val het, is die koesterende eenvoud van kaas, eier en goed gebotterde roosterbrood op jou bord en in jou hart soms net die ding om 'n slag weer perspektief en die paadjie vorentoe te vind.

So terloops: die pragtige en eg Afrikaanse word vir omelet is eierstruif. Mooi, nè?

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Thursday 25 July 2019

Lemoenstroop & Klapper Tert

Slaat lemoen en klapper met ‘n Josefskleed en kyk hoe steel hulle die kalklig!

Oorle Oupa Piet sou op sy stil en rustige manier erg beïndruk gewees het. Hy was ‘n man wat sy siel met oorgawe sou verkoop het vir ‘n parmantige Lemoenbroodjie. Ek wonder wat sy kommentaar sou wees op hierdie oefening.

Geroosterde klapper bring ‘n nuwe dimensie aan Lemoentert. En daai stroop? Gooi ‘n skoot jenewer by en kyk hoe dans ‘n tert die riel ...

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Monday 8 July 2019

Oond-geroosterde Klapper

Geduldige ou klapper kry nogal ‘n guitige huppel in sy trippel as dit gerooster word om die geur profiel te verbreed en verdiep. Gevolglik kan dit in heel onverwagse rolle aangewend word.

Komende blog plasings sal bogenoemde bewering staaf. En hier het jy gedink vervelige klapper is net nuttig vir Hertzoggies, klapperys en bazaar Kerrie-en-rys. Skaam jouself.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Wednesday 19 June 2019

Lemoenskyf Konserf

Lemoen skyfies in stroop is ‘n ou-ou metode om daai lemoene wat al by hul beste verby is, te preserveer. Die resep is maklik, neem nie te lank nie, is nie morsig nie en werk ook vir suurlemoene. Boonop sal Ouma erg beïndruk wees as jy met ‘n botteljie van die by haar opdaag.

Lemoenskyf konserf het wye aanwending in die kos wêreld, beide aan die soet en die sout kant. Lees verder hier ...

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Tuesday 11 June 2019

Hawermout, Dadel en Lemoen Ontbytpap

Die winter is hier. Byt terug instede van op jou tande kners!

Hawermout, dadel en ingelegde lemoen ontbyt pap is ‘n gesofistikeerde, vinnige ontbyt met ‘n hoë energie en vesel inhoud. Die gedroogde vrugte stel hul energie oor ‘n verlengde periode vry wat help om bloedsuiker vlakke relatief stabiel en egalig te hou – wat natuurlik help om daai genadelose soettand teen teetyd nog rustig en bedaard te hou. En die vesel hou dikderm gelukkig, wat almal later gelukkig hou. Lees meer hier ... 

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Thursday 25 April 2019

Soet & Suur Naeltjie Kerrie

‘n Ongewone en heel gesofistikeerde kerrie gereg wat maklik en redelik vinnig voorberei sodat jy die mense van jou asem weer ‘n slag kan herinner dat jy nog glad nie jou slag in die kombuis verloor het nie!

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Ek vertrou dat u sal verstaan en bedank u by voorbaat vir u begrip.

Friday 12 April 2019

Neuterige Hawermout, Rosyne en Sonneblomsaad Ontbyt Pap

RESEP : Neuterige Hawermout, Rosyne en Sonneblomsaad Ontbyt Pap

Pamperlang jou siel wanneer Maandag (of enige ander dag) swaar op jou gemoed lê en alles binne jou rebelleer teen die idee van opstaan.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees.

Friday 29 March 2019

Oond Geroosterde Spek & Eier Mayonnaise Vulsel

Oond Geroosterde Spek & Eier Mayonnaise Vulsel

So ‘n ietsie anders vir daai dae waar die gewone draal nukkerig vervelig is en jou siel sug vir ‘n andersheid.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees. Dank by voorbaat vir u begrip.

Wednesday 6 March 2019

Die Wolmuis

Haai Johan, ek het jou eergister oggend amper nie herken met daai welige ding op jou kop nie. Dit het my ‘n rukkie geneem om te besef dit is jy onder daai geil haarstuk. Ek het nooit geweet die bles pla jou só erg nie! Johan, jy het nogal uitgelese gelyk met jou bles, soos ‘n man wat weet wat hy wil hê.
Sjoe Johan, weet Magda van die blinkoog meisie wat so aan jou arm gehang het? Wat sê sy van hierdie affêre Boeta? Wat sê jou kinders Johan? Goeiste Johan, daai kalfie-oog popsie kan nie veel ouer as Erika wees nie? Erika is mos nou finale jaar, nie waar nie?
Ek het gesien jy dra nie jou trouring nie, Johan. En daai plat, blink SLK? Waar is jou netjiese 4x4 waarmee julle gesin so graag gaan kamp het? Het jy Magda en die kinders ook reeds klaar ingeruil vir hierdie parmantige sport modelletjie? Johan, ek wil nie voorspooksels opjaag nie, maar daai nuwe waentjie lyk bietjie laag op die grond vir potbrood knie en in die veld gaan hurk Boeta.
Ou Johan, dit is seker nie my plek om dit so prontuit vir jou te sê nie, maar daai ding op jou kop lyk soos ‘n verskrikte vlakhaas wat agterstevoor onder ‘n ruie wag ‘n bietjie bos uitgesleep is. Ek het my proes maar hard gesluk want die girl het reeds ongemaklik gelyk. Miskien was julle maar net haastig oppad terug kantoor toe?
Goeiste Johan, ek wonder hoe kry jy dit reg om by te hou by daai wolmuis? Te oordeel aan jou vatterige hand en haar vriendelike boudjie hou jy sovêr nog goed by. Hel Johan, sy kan rêrig nie ‘n dag ouer wees as Stefan se verloofde nie! Sjoe ...
Kan jy darem sonder ‘n blou pilletjie nog roer onder die lakens as daai girl bed toe getrippel kom in haar fynste kantkatoetertjie, Johan? Ek hoop jou apteker gee jou grootmaat afslag op die blou pilletjies en die Bioplus? Gelukkig is jy die Senior Vennoot, ek glo jou kredietkaart staan styf in vir die papperigheid in jou manlikheid.
Slaap jy snags Johan? Jou oë eergister het my laat wonder. Waaraan lê jy en dink in die stil dieptes van die nag Johan? Hoop jy die wolmuis gaan help vir die spyt wat te laat gaan kom? Voel jy ooit skuldig Johan? Wéét jy van alleen wees op jou oudag?
Aarde Boeta, waar is Magda? Julle was hoe lank saam – 34 jaar, nie waar nie? Ek het Magda nog altyd net bewonder Johan, sy het my ‘n voorslag opgeval. En jou kinders Johan? Ek wonder wat dink hulle deesdae van jou?
Eishh Johan, hoe lank dink jy gaan daai popsie volhou met met die 20 minute wag tot daai blou bulpil inskop? Ek kan nie help om te wonder of sy nog só geduldig gaan wees na Magda se regspan met jou klaar gemaak het nie? Ek vermoed hulle gaan nie blou pilletjies nodig hê nie. Dalk moet jy begin pleisters bymekaar maak Boeta?
Hêrre Johan, is jy gelukkig? Is jy rêrig gelukkig?
Haai ou Johan ...
© RS Young, 2019

Saturday 2 February 2019

Maltabella Pap met Verglansde Lemoenskil en Pruimedante

RESEP : Maltabella Pap met Verglansde Lemoenskil en Pruimedante

Ma sou waarskynlik destyds nie geval het vir hierdie ene op ‘n besige weeksoggend met ontbyt vir vier jong kinders en ‘n haastige eggenoot heel eerste op haar Agenda nie. Maar nou is ek blykbaar groot en het ek die tyd om Maltabella pap na sy volle reg uit te laat leef.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees.

Monday 9 April 2018

Stamp&Bone Met Rooster Groente

Goeie ou winderige Stamp&Bone soos die ‘ou mense’ dit nooit geken het nie. Oondgeroosterde groente (en ‘n paar ander “maghêfftertjies”) verhef die vervelige en miskende reikhalsend na die verhewe.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees.

Wednesday 4 April 2018

Suurlemoen Poeier

Wel, eintlik gemaalde, gedroogde suurlemoenskil. En dit het  ‘n verbasende omvang in aanwending, afhangend van hoe avontuurlustig die ondernemende kok is.

Die skakel gaan u neem na die artikel op my 'internasionale' blog: 5Flavours. Ongelukkig neem dit net te veel tyd in beslag om die resepte in beide Afrikaans en Engels voor te berei. Maksimum blootstelling vereis ewe ongelukkig dat Engels voortaan die voertaal van my resepte gaan wees.

Friday 16 March 2018

Geblokte Bees Hart met Balsamieke Asyn en Glans Lemoen Skil

Wie’t nou weer gesê bees hart is hondekos? Wel, eet jou woorde. Hier skud bees hart sy poniestert uit en dans die tafels baard en bier in die wind.